1 “Luister, Israel, jy gaan nou deur die Jordaanrivier trek om nasies te gaan verdryf wat groter en sterker is as jy en om groot stede wat met hoë mure versterk is, te gaan verower.
2 Jy weet hoe 'n groot en sterk volk die Enakiete is. Jy het gehoor daar word gevra: ‘Wie kan die Enakiete teëstaan?’
3 Maar onthou: die Here jou God gaan voor jou uit deur die Jordaan. Hy is 'n verterende vuur. Hy sal die Enakiete oorweldig en aan jou onderwerp. Dan sal jy hulle kan verslaan en hulle gou uitwis soos die Here jou beloof het.
4 “Wanneer die Here jou God hulle verdryf het, moet jy nie sê: ‘Die Here het my hierdie land in besit laat neem omdat ek volmaak is’ nie, want die Here het hierdie nasies verdryf omdat hulle so goddeloos is.
5 Dit is nie omdat jy volmaak en opreg is dat jy sal ingaan om hulle land in besit te neem nie. Omdat hierdie nasies so goddeloos is, sal die Here jou God hulle verdryf, en so sal Hy die belofte vervul wat Hy met 'n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob gemaak het.
6 Jy moet goed onthou dat die Here jou God nie hierdie goeie land vir jou gee om in besit te neem omdat jy volmaak is nie. Jy is 'n hardkoppige volk.”
7 “Moenie vergeet hoe julle die Here julle God kwaad gemaak het in die woestyn nie. Vandat julle uit Egipte weggetrek het totdat julle hier op hierdie plek aangekom het, was julle die hele tyd in opstand teen die Here.
8 By Horeb het julle gemaak dat die toorn van die Here ontvlam, en Hy het so kwaad geword vir julle dat Hy julle wou uitroei.
9 Ek het teen die berg uitgeklim om die plat klippe te gaan ontvang, die plat klippe waarop die Here die bepalings van sy verbond met julle geskryf het. Ek het veertig dae en veertig nagte lank daar gebly en niks geëet of gedrink nie.
10 Die Here het vir my die twee plat klippe gegee waarop met sy eie vinger al die woorde geskryf was wat Hy op die berg uit die vuur uit met julle gepraat het, die dag met die vergadering.
11 Dit was aan die einde van die veertig dae en die veertig nagte dat die Here die twee plat klippe, die plat klippe met die verbondsbepalings daarop, vir my gegee het.
12 “Toe het die Here vir my gesê: ‘Gaan gou ondertoe, want jou volk wat jy uit Egipte laat trek het, het afvallig geword. Hulle het baie gou weggedraai van die koers af wat Ek vir hulle aangewys het, en hulle het vir hulle 'n afgodsbeeld gegiet.’
13 “Die Here het verder vir my gesê: ‘Ek het gesien dat dit 'n hardkoppige volk is hierdie.
14 Jy moet My nie probeer keer nie. Ek wil hulle uitwis en hulle naam van die aarde af wegvee. Dan sal Ek jou 'n sterk nasie maak, groter as hulle.’
15 “Toe het ek omgedraai en terwyl die berg gebrand het, het ek afgegaan met die twee klippe van die verbond in my hande.
16 Ek het gesien hoe julle teen die Here julle God gesondig het deurdat julle vir julle 'n beeld in die vorm van 'n bulkalf gemaak het. Julle het baie gou weggedraai van die koers af wat die Here vir julle aangewys het.
17 Ek het die twee plat klippe wat ek in my hande gehad het, flenters gegooi in julle teenwoordigheid.
18 Daarna het ek, soos die eerste keer, veertig dae en veertig nagte lank voor die Here gelê en gebid. Ek het niks geëet en gedrink nie oor die groot sonde wat julle gedoen het. Julle het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uitgetart.
19 Ek was bang, want die toorn, die gramskap van die Here, het so teen julle ontvlam dat Hy julle wou uitroei. Maar ook hierdie keer het die Here na my geluister.
20 “Die Here was so kwaad vir Aäron dat die Here hom om die lewe wou bring, maar ek het destyds ook vir hom gebid.
21 Ek het daardie gruwelike ding, die kalf wat julle gemaak het, gevat en in die vuur gegooi. Toe het ek dit stukkend geslaan en dit so fyn soos stof gemaal en dit in die spruit gegooi wat van die berg af kom.
22 “Julle het die Here ook nog by Tabera, by Massa en by Kibrot-Taäwa kwaad gemaak.
23 “Toe die Here julle van Kades-Barnea af weggestuur het, het Hy gesê: ‘Trek op en neem die land wat Ek vir julle gegee het, in besit.’ Maar julle het in opstand gekom teen die bevel van die Here julle God. Julle het nie op Hom vertrou nie en Hom nie gehoorsaam nie.
24 Vandat ek julle leer ken het, was julle in opstand teen die Here.
25 “Ek het die veertig dae en veertig nagte voor die Here gelê en gebid, want Hy wou julle vernietig.
26 Ek het tot Hom gebid: Here my God, moet tog nie u volk vernietig nie. Hy is u eiendom, U het hom gered toe U hom deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte laat wegtrek het.
27 Onthou tog u dienaars Abraham, Isak en Jakob. Moenie aandag gee aan die hardkoppigheid van hierdie volk nie, aan hulle opstandigheid en hulle sonde nie.
28 Waarom moet die mense van die land waaruit U ons laat trek het, sê: ‘Omdat die Here nie die Israeliete kon bring in die land wat Hy hulle beloof het nie en omdat Hy hulle haat, het Hy hulle laat wegtrek om hulle in die woestyn om die lewe te bring?’
29 Hulle is tog u volk, u eiendom wat U deur u groot mag en met kragtige dade laat wegtrek het!”