49 Die Here sal van ver af 'n nasie teen jou laat opruk. Hy sal van die uithoeke van die aarde af kom, vinnig soos 'n arend wat vlieg. Dit sal 'n nasie wees wie se taal jy nie verstaan nie,
50 'n wrede nasie deur wie niemand, oud of jonk, ontsien word nie, 'n nasie sonder genade.
51 Hy sal die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land opeet totdat hy jou uitgeroei het. Hy sal nie vir jou koring of wyn of olie laat oorbly nie, ook nie van die aanteel van jou grootvee en jou kleinvee nie. Jou vyand sal dit doen totdat hy jou ondergang bewerk het.
52 “Hy sal jou in al jou stede beleër totdat jou hoë stadsmure en jou vestings waarop jy staatmaak, dwarsdeur jou land afgebreek is. Hy sal jou beleër in al die stede van jou hele land wat deur die Here jou God aan jou gegee is.
53 Wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry, sal jy die vleis van jou eie kinders eet, jou seuns en dogters wat deur die Here jou God aan jou gegee is.
54 Selfs die sagste en mees verfynde man by jou sal niks omgee vir sy broer of sy lieflingvrou of sy kind wat nog lewe nie.
55 Hy sal vir nie een van hulle die vleis van sy eie kinders gee wat hy eet nie, want dan hou hy niks vir homself oor nie. Dit is wat sal gebeur wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry in al jou stede.