61 Die Here sal ook al die siektes en rampe wat nie in hierdie wetboek genoem is nie, oor jou laat kom totdat Hy jou uitgeroei het.
62 “Julle was so baie soos die sterre aan die hemelruim, maar daar sal net 'n klompie van julle oorbly omdat jy nie die Here jou God gehoorsaam het nie.
63 “Soos die Here jou God Hom oor julle verbly het toe Hy aan julle goed gedoen en julle baie gemaak het, so sal Hy Hom verbly wanneer Hy julle tot niet maak en julle uitroei. Julle sal uitgeruk word uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.
64 Die Here sal jou verstrooi onder al die volke, oor die hele aarde. Daar sal jy ander gode dien wat jy en jou voorvaders nie geken het nie, gode van hout en klip.
65 Onder daardie nasies sal jy nie vrede vind nie, nie eers 'n rusplek vir jou voete nie. Die Here sal jou daar 'n hart vol angs gee, oë wat ingee, 'n lewe wat wegkwyn.
66 Jou lewe sal aan 'n draadjie hang, jy sal dag en nag in vrees lewe, jy sal jou lewe lank onveilig wees.
67 In die môre sal jy sê: ‘Was dit maar aand!’ en in die aand sal jy sê: ‘Was dit maar môre!’ so vol vrees sal jy wees en sulke vreeslike dinge sal jy belewe.