21 Die Here sal hom van die ander stamme van Israel afsonder sodat rampe hom kan tref ooreenkomstig die verbond wat met 'n eed gesluit en in hierdie wet opgeteken is.
22 “Wanneer die nageslag, julle kinders wat ná julle kom, en vreemdes wat van ver af kom, die plae in hierdie land sien en ook die siektes wat deur die Here daarin gebring word, sal hulle sê:
23 ‘Die hele land is verbrand, dis swael en sout! Niemand saai daar nie, daar groei niks, daar kom nie eers 'n groenigheid op nie. Dit is verwoes soos Sodom en Gomorra, soos Adma en Sebojim wat deur die Here in sy gloeiende toorn verwoes is.’
24 “Dan sal al die nasies vra: ‘Waarom het die Here dit met hierdie land gedoen? Waarom het hierdie groot toorn ontvlam?’
25 Dan sal die antwoord wees: ‘Omdat die mense van hierdie land die verbond verbreek het wat die Here die God van hulle voorvaders met hulle gesluit het toe Hy hulle uit Egipte laat wegtrek het.
26 Hulle het ander gode gaan dien en vereer, gode wat onbekend was aan hulle en nie vir hulle bestem was nie.
27 Daarom het die toorn van die Here teen hierdie land ontvlam en het Hy al die strawwe wat in hierdie boek opgeteken is, oor die land gebring.