11-12 Hy het die tafel oorgetrek met skoon goud en hy het ’n rand van goud rondom die tafel vasgesit. Die rand was ’n handbreedte. Aan hierdie rand was nog ’n rand en dit was ook van goud.
13 Hy het vier goue ringe gemaak en hy het die ringe vasgesit aan die vier hoeke van die tafel, een ring by elke tafel-poot.
14 Die ringe was naby die rand, sodat hulle die dra-pale daardeur kon steek om die tafel te dra.
15 Besaleël het die dra-pale van doringhout gemaak en hy het dit oorgetrek met goud. Hulle het die tafel met die dra-pale gedra.
16 Hy het ook die goed gemaak wat hulle by die tafel gebruik het: die skottels, panne, kanne en bakke. Hulle het die drank-offers daarmee uitgegooi. Besaleël het alles van skoon goud gemaak.
17 Besaleël het ’n lampstaander van skoon goud gemaak. Die lampstaander se voetstuk, die stam, die blomme en blomknoppe was alles een stuk goud.
18 Daar was ses arms aan die kante van die lampstaander, drie arms aan die een kant en drie arms aan die ander kant.