10 Die vals profete sal die straf vir hulle sonde kry, die persoon wat dinge vir My kom vra en die profeet sal dieselfde straf kry.
11 Dan sal die volk Israel nie weer weggaan van My nie en hulle sal hulleself nie weer onrein maak met al hulle sondes nie. Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
12 Ek het gehoor die Here sê vir my:
13 “Mens, wanneer die mense in ’n land sonde doen teen My en ontrou word, dan sal Ek hulle kos laat opraak en Ek sal hulle honger laat word. Ek sal die mense en die diere in die land laat doodgaan.
14 As daardie drie manne, Noag, Daniël en Job, nou in die land was, dan sou hulle net hulle eie lewens gered het omdat hulle reg gedoen het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
15 Die Here het gesê: “Ek sal wilde diere in die land bring en hulle sal die land verwoes sodat niemand daar kan woon nie. Niemand sal deur die land kan loop nie omdat daar wilde diere is.
16 As daardie drie manne, Noag, Daniël en Job, nou in die land was, dan sou hulle nie hulle seuns of dogters kon red nie, hulle sou net hulleself kon red. Niemand sal in die land kan woon nie. Dit is seker, so seker soos Ek lewe.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.