5 “Maar Ohola was ontrou aan My. Sy was baie verlief op die Assiriërs wat naby haar was.
6 Hulle het koningsklere gedra en hulle was goewerneurs en hoofde, mooi jongmanne wat op perde gery het.
7 Ohola het graag by hulle geslaap, sy het by al die beste Assiriërs geslaap. Sy was baie verlief op hulle en sy het haarself onrein gemaak met al hulle afgode.
8 Sy het in Egipte begin om by mans te slaap en sy het nie opgehou om dit te doen nie. Sy was nog jonk toe hulle by haar begin slaap het. Hulle het aan haar borste begin voel toe sy ’n jongmeisie was. Hulle het met haar gedoen wat hulle wou.
9 Sy was verlief op die Assiriërs, daarom het Ek haar vir hulle gegee.
10 Hulle het haar kaal uitgetrek, hulle het haar seuns en haar dogters gevat en hulle het haar toe doodgemaak. Hulle het haar so swaar gestraf dat ander vroue bang geword het wanneer hulle haar naam hoor.
11 “Haar suster Oholiba het gesien wat met haar gebeur het, maar Oholiba het nog meer verlief geword en sy was nog meer ontrou as haar suster.