7 Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal nou vir koning Nebukadnesar van Babel bring om Tirus aan te val. Hy is die koning oor al die konings en hy sal kom met perde en oorlogkarre en met manne op perde en baie soldate.
8 Hy sal die mense doodmaak wat woon in die dorpe buite Tirus. Hy sal ’n grondwal bou en hy sal grond gooi teen die muur van die stad. Hy sal skild-dakke tot by die mure bring.
9 Hy sal met ’n stormram teen die mure stamp en hy sal die torings stukkend slaan met ysters.
10 Hy sal baie perde hê, die stof wat die perde maak, sal die hele stad toemaak. Niks sal hom keer nie. Wanneer hy deur die poorte kom, dan sal die mure van Tirus begin bewe, want die manne op die perde en die oorlogkarre sal baie raas.
11 Sy perde sal die strate stukkend trap met hulle pote, hy sal die mense in die stad doodmaak en hy sal die sterk pilare omgooi.
12 Hulle sal die goed in die stad vir hulleself vat en hulle sal al die winkels leegmaak. Hulle sal die mure en die mooi huise afbreek en hulle sal die hele stad in die see gooi, die klippe en die hout en die grond.
13 So sal Ek die mense van Tirus laat ophou om vrolik te sing. Niemand sal weer die musiek van hulle liere hoor nie.