9 Hy sal met ’n stormram teen die mure stamp en hy sal die torings stukkend slaan met ysters.
10 Hy sal baie perde hê, die stof wat die perde maak, sal die hele stad toemaak. Niks sal hom keer nie. Wanneer hy deur die poorte kom, dan sal die mure van Tirus begin bewe, want die manne op die perde en die oorlogkarre sal baie raas.
11 Sy perde sal die strate stukkend trap met hulle pote, hy sal die mense in die stad doodmaak en hy sal die sterk pilare omgooi.
12 Hulle sal die goed in die stad vir hulleself vat en hulle sal al die winkels leegmaak. Hulle sal die mure en die mooi huise afbreek en hulle sal die hele stad in die see gooi, die klippe en die hout en die grond.
13 So sal Ek die mense van Tirus laat ophou om vrolik te sing. Niemand sal weer die musiek van hulle liere hoor nie.
14 Ek sal net kaal klippe laat oorbly waar die stad was. Dit sal ’n plek wees waar mense hulle visnette droogmaak. Niemand sal weer die stad bou nie, want Ek, die Here, het gepraat.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
15 Die Here, Hy wat Here is, sê vir die stad Tirus: “Die ander lande by die see sal begin bewe wanneer die vyande jou oorwin, wanneer jou mense wat seergekry het, kla en skree, en wanneer die vyande jou mense doodmaak.