1 Koning Sanherib van Assirië het al die sterk stede in die land Juda aangeval en hy het hulle oorwin. Dit was in die veertiende jaar nadat Hiskia koning geword het.
2 Die koning van Assirië het ’n hoof-offisier gestuur van die stad Lakis na Jerusalem. Saam met die hoof-offisier was daar baie soldate. Die hoof-offisier het gaan staan by die watersloot uit die boonste dam. Dit was langs die pad na die plek waar die mense altyd die wol gewas het.
3 Eljakim seun van Gilkija, en Sebna en Joag, seun van Asaf, het na die hoof-offisier toe gegaan. Hulle was die drie belangrikste amptenare van koning Hiskia.
4 Die offisier het vir hulle gesê: “Julle moet vir koning Hiskia sê ons bring ’n boodskap van die groot koning, die koning van Assirië. Die koning vra vir Hiskia: Hiskia, dink jy iemand kan jou help?
5 Jy wil oorlog maak teen my, maar dit sal jou nie help om net te praat en planne te maak nie.
6 “Jy dink nou Egipte sal jou help, maar Egipte is soos ’n riet-kierie wat gebreek het. As jy op die riet druk, dan steek dit jou hand stukkend. Die farao, die koning van Egipte, is soos ’n riet-kierie vir almal wat dink hy sal hulle help.
7 Jy sê vir my dat julle God die Here julle sal help, maar ek sê Hy sal dit nie doen nie, want Hiskia het julle God se offer-plekke en altare afgebreek. Hiskia het vir die mense van Juda en Jerusalem gesê hulle mag net bid by die brandoffer-altaar in Jerusalem.