1 Die Filistyne het Israel aangeval en oorwin. Die Israeliete het op die vlug geslaan en baie van hulle soldate is op Gilboaberg doodgemaak.
2 Die Filistyne het toe op Saul en sy seuns toegesak en drie van sy seuns, Jonatan, Abinadab en Malkisua, doodgemaak.
3 Die geveg het al hoe swaarder rondom Saul gewoed. Die Filistynse boogskutters het hom ingehaal en raak geskiet.
4 Saul skreeu toe vir sy wapendraer: “Vat jou swaard en maak my dood, voordat hierdie spul Filistyne op my afkom en hulle in my lot kan verlekker!” Maar sy wapendraer was verskriklik bang en wou dit nie doen nie. Saul gryp toe sy eie swaard en val daarin.
5 Toe sy wapendraer sien dat Saul dood is, het hy ook in sy swaard geval en só gesterf.
6 Saul en sy drie seuns het saam gesneuwel. So het sy koningshuis tot ’n einde gekom.
7 Toe die Israeliete wat in die vlakte gewoon het, sien dat die soldate gevlug het en dat Saul en sy seuns dood is, het hulle hulle dorpe ontruim en gevlug. Die Filistyne het in die gebied ingetrek en daar gaan woon.