1 Kronieke 12 DB

Soldate wat vroeg reeds by Dawid aangesluit het

1 Die volgende manne het in Siklag reeds by Dawid aangesluit. Hy was toe nog voortvlugtend en het weggekruip vir Saul, die seun van Kis. Hulle was dapper manne wat saam met Dawid geveg het.

2 Hulle was uitgelese boogskutters, wat ’n pyl en boog én ’n slingervel ewe vaardig met die linker- of die regterhand kon hanteer.Van Saul se stamgenote uit Benjamin:

3 Agiëser, die leier, en Joas, Semaä se seuns uit Gibea; Jesiël en Pelet, Asmawet se seuns; Beraka en Jehu uit Anatot,

4 Jismaja uit Gibeon, ’n dapper vegter en leier onder die Dertigtal; Jeremia, Jagasiël, Joganan en Josabad uit Gedera;

5 Elusai, Jerimot, Bealja, Semarja en Sefatja uit Garif;

6 Elkana, Jissija, Asarel, Joëser en Jasobam uit Korag;

7 Joëla en Sebadja, Jerogam se seuns uit Gedor.

8 Uit die stam van Gad het daar ook dapper soldate na Dawid toe oorgeloop. Hy was toe nog in sy vesting in die wildernis. Hulle was goed toegerus om met skild en spies te veg, so vreesloos soos leeus en so vinnig soos bokke in die berge.

9 Eser was die leier, Obadja was tweede in bevel en Eliab derde,

10 Mismanna vierde, Jeremia vyfde,

11 Attai sesde, Eliël sewende,

12 Joganan agtste, Elsabad negende,

13 Jeremia tiende, Makbannai elfde.

14 Hierdie soldate uit Gad was leërbevelvoerders; die swakste een van hulle sou hom kon handhaaf teen 100 soldate, die sterkste teen 1 000.

15 Dit was hulle wat die Jordaanrivier in die reëntyd, toe dit in vloed was, oorgesteek het. Hulle het toe die mense verjaag wat weerskante van die rivier gebly het.

16 Toe daar soldate uit Benjamin en Juda aangekom het om by Dawid in sy vesting aan te sluit,

17 het hy vir hulle gesê: “As julle in vrede gekom het om my te help, sal julle in my ’n vriend hê. Maar as julle hier is om my aan my vyande te verraai terwyl ek onskuldig is, mag die God van ons voorouers dit raaksien en julle straf.”

18 Amasai, ’n leier in die Dertigtal, is deur die Gees in besit geneem en hy het gesê:“Ons is vír u, Dawid!Ons is aan u kant, seun van Isai!Vrede! Vrede vir u!Vrede ook vir dié wat u help,want u God help u!”Dawid het hulle toe aanvaar en as offisiere in sy leër aangestel.

19 Toe Dawid saam met die Filistyne teen Saul gaan veg het, het daar ’n groep soldate uit die stam van Manasse by hom aangesluit. Dit het egter nie so uitgewerk nie, want die Filistynse leiers het besluit om Dawid terug te stuur. Hulle het geredeneer: “Dis te gevaarlik. As hy na sy koning Saul toe oorloop, kan dit ons ons lewe kos.”

20 Hier is ’n lys name van die mense uit Manasse wat na Dawid toe oorgeloop het, terwyl hy na Siklag toe op pad was: Adnag, Josabad, Jediael, Migael, Josabad, Elihu en Silletai, elkeen in bevel van omtrent 1 000 soldate van Manasse.

21 Hulle het Dawid help veg, want hulle was goeie soldate en het offisiere in sy leër geword.

22 Daar het dag vir dag mense by Dawid aangesluit om hom te help. Só het sy bende algaande tot ’n baie groot leër gegroei.

Die soldate wat Dawid se koningskap help vestig het

23 Hier volg die getalle van gewapende soldate wat hulle in Hebron by Dawid aangesluit het. Hulle was daar om Saul se koningskap aan Dawid oor te dra, soos die Here beveel het.

24 Uit die stam van Juda: 6 800 ten volle gewapende manne met skild en spies;

25 uit die stam van Simeon: 7 100 soldate, gereed om oorlog te maak;

26 uit die stam van Levi: 4 600 soldate;

27 asook Jojada, ’n leier uit die familie van Aäron met 3 700 man by hom

28 en Sadok, ’n jong, strydlustige soldaat met 22 familielede wat almal offisiere was;

29 uit die stam van Benjamin, Saul se stamgenote: 3 000. Die meeste van hulle het tot in hierdie stadium getrou gebly aan Saul.

30 Uit die stam van Efraim: 20 800 soldate, gereed om oorlog te maak. Hulle was beroemd in hulle familie.

31 Uit die halwe stam van Manasse: 18 000 soldate wat spesifiek aangewys is om Dawid te kom koning maak.

32 Uit die stam van Issaskar: 200 leiers met al hulle familielede onder hulle bevel. Hulle was mense wat neigings en rigtings met wysheid kon beoordeel en kon aanbeveel wat Israel moes doen.

33 Uit die stam van Sebulon: 50 000 soldate wat goed toegerus was en gereed was om oorlog te maak. Hulle was volkome lojaal aan Dawid.

34 Uit die stam van Naftali: 1 000 bevelvoerders met 37 000 man, almal toegerus met skild en spies;

35 uit die stam van Dan: 28 600 gewapende soldate;

36 uit die stam van Aser: 40 000 gewapende soldate, gereed om oorlog te maak.

37 Van oorkant die Jordaan af was daar uit die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam 120 000 soldate, almal toegerus met hulle wapens.

38 Al hierdie soldate was in volle gereedheid en het na Hebron gekom met een doel voor oë: om vir Dawid koning oor Israel te maak. Trouens, die hele Israel het saamgestem dat hulle Dawid as koning wou hê.

39 Hulle het drie dae lank saam met Dawid geëet en gedrink, want hulle volksgenote het die fees vir hulle voorberei.

40 Daar het selfs ekstra kos van so ver as die gebiede van Issaskar, Sebulon en Naftali af gekom. Ekstra vyekoeke, rosyntjiekoeke, wyn en olie, bees- en skaapvleis is op donkies, kamele, muile en beeste aangebring fees toe, want daar was groot vreugde in Israel.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29