1 Die volgende lente, in die tyd toe die konings gewoonlik oorlog gaan maak het, het Joab die leër van Israel na Ammon toe gelei. Hulle het die land geplunder en uiteindelik die hoofstad, Rabba, ingeneem. Dawid het egter in Jerusalem agtergebly.
2 Toe Dawid in Rabba aankom, het hy die Ammonitiese koning se kroon van sy kop afgehaal en op sy eie kop gesit. Die kroon was van goud, met ’n waardevolle edelsteen daarin. Dit het omtrent 34 kilogram geweeg. Hulle het ’n baie groot klomp skatte uit die stad weggedra
3 en van die inwoners slawe gemaak wat met saag, pik en byl vir hom moes werk. Dit het hy met die inwoners van al die Ammonitiese dorpe gedoen.Daarna het Dawid en al sy mense teruggegaan Jerusalem toe.
4 Hierna het daar oorlog teen die Filistyne in Geser uitgebreek. Sibbekai die Gusatiet het vir Sippai, ’n Refaïet, verslaan en die Filistyne is ook onderwerp.
5 In nog ’n geveg teen die Filistyne het Elganan, Jaïr se seun, vir Lagmi, Goliat se broer uit Gat, verslaan. Lagmi se spies se steel was so dik soos ’n weefstoel se dwarsbalk.
6 Daar was weer ’n geveg in Gat. Een van die vegters was ’n Refaïet van geboorte. Hy was groot en het ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet gehad, altesaam 24.
7 Hy het die Israeliete getart, maar Jonatan, die seun van Dawid se broer Simea, het hom doodgemaak.
8 Hulle was almal Refaïete van Gat wat deur Dawid en sy manskappe doodgemaak is.