1 Koning Hiram van Tirus het boodskappers na Dawid toe gestuur. Hulle het sederhout, klipmesselaars en skrynwerkers saamgebring om vir Dawid ’n paleis te bou.
2 Dawid het toe besef dat die Here sy koningskap oor Israel bevestig het en dat Hy die koninkryk ter wille van sy volk Israel grootgemaak het.
3 Dawid het in Jerusalem met nog vroue getrou en hulle het nog seuns en dogters gehad.
4 Die name van Dawid se kinders wat in Jerusalem gebore is, was: Sima, Sobab, Natan, Salomo,
5 Jibgar, Elisua, Elpelet,
6 Noga, Nefeg, Jafia,
7 Elisama, Eljada en Elifelet.
8 Toe die Filistyne hoor dat Dawid koning geword het oor die hele Israel, het hulle almal reggemaak vir oorlog en vertrek om hom te gaan vang. Dawid het verneem dat hulle op pad was en hy en sy soldate het hulle tegemoetgegaan.
9 Die Filistyne het hulle magte in die Refaimvallei ontplooi.
10 Dawid het vir God gevra: “Moet ek teen die Filistyne gaan veg? Sal U my laat wen?”Die Here het geantwoord: “Val maar aan! Ek sal jou laat wen.”
11 Dawid-hulle het toe na Baäl-Perasim gegaan en die Filistyne daar verslaan. Dawid sê toe: “God het deur my ’n bres in die vyand geslaan! Dit was soos ’n vloed wat ’n wal tref!” Dis hoekom hulle die plek Baäl-Perasim genoem het.
12 Die Filistyne het hulle gode daar agtergelaat en Dawid het beveel dat dit verbrand moes word.
13 Die Filistyne het die vallei later weer beset.
14 Dawid het weer vir God gevra wat hy moes doen. “Moet hulle nie reg van voor aanval nie,” het God geantwoord. “Trek óm hulle en val hulle daar by die balsembosse aan.
15 As jy ’n geluid soos voetstappe bo in die takke hoor, kan jy maar aanval. Dit sal die teken wees dat God voor jou uitgaan om die Filistyne te verslaan.”
16 Dawid het gedoen wat God hom beveel het en hulle het die Filistynse leër van Gibeon af tot by Geser verslaan.
17 Dawid se roem het na al die lande toe versprei en al die nasies was bang vir hom.