1 Kronieke 11:17-23 DB

17 Dawid het verlangend gesê: “Ek wens iemand wou nou vir my ’n bietjie water uit die put by Betlehem se poort gaan haal!”

18 Die drie manne het dadelik deur die Filistyne se linies gebreek. Hulle het water uit die put by Betlehem se poort gaan skep en dit vir Dawid teruggebring. Hy was egter nie bereid om dit te drink nie en het dit as ’n offer vir die Here op die grond uitgegooi.

19 Hy het gesê: “Mag God my daarvan bewaar dat ek so iets sou doen! Die water is so goed as dié manne se bloed, hoe kan ek dit drink? Hulle het hulle lewe in gevaar gestel om die water vir my te bring.” Daarom het hy dit nie gedrink nie.Dit is die soort ding wat dié drie helde gedoen het.

20 Abisai, Joab se broer, was die leier van die Dertigtal. Hy het met sy spies 300 man doodgemaak en vir homself naam gemaak onder die soldate.

21 Hy was die beroemdste van die Dertigtal en was hulle aanvoerder, al was hy nie een van die Drietal nie.

22 Benaja, Jojada se seun, het van Kabseël af gekom. Hy was dapper en ’n man van die daad. Hy het eenkeer twee van Moab se dapperste vegters doodgemaak. ’n Ander keer het hy op ’n dag wat dit gesneeu het, in ’n put afgeklim en die leeu doodgemaak wat daarin was.

23 Op ’n ander keer het hy ’n Egiptenaar doodgemaak wat twee en ’n kwart meter lank was. Die Egiptenaar se spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel. Benaja het net ’n stok by hom gehad, maar hy het die Egiptenaar se spies uit sy hand geruk en hom met sy eie spies doodgemaak.