13 Ek sal sy Pa wees en hy sal my seun wees. Ek sal nie my ondersteuning aan hom onttrek, soos Ek met jou voorganger gedoen het nie.
14 Ek sal hom vir altyd laat regeer en mense uit sy nageslag sal altyd koning wees.”
15 Natan het toe na Dawid toe teruggegaan en alles wat die Here vir hom gesê het, aan Dawid oorvertel.
16 Dawid het in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek en my familie, o Here God, dat U my so ver gebring het?
17 O God, nou praat U ook nog van ’n koningshuis wat nooit sal eindig nie wat U vir my sal gee! U praat asof ek iemand groots is, o Here God.
18 Wat kan ek nou vir U sê nadat U my, wat u dienaar is, so hoog vereer het? U ken my baie goed.
19 Here, omdat U my liefhet en omdat U dit so wil hê, het U al hierdie groot dinge gedoen en dit bekendgemaak.