16 Dawid het in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek en my familie, o Here God, dat U my so ver gebring het?
17 O God, nou praat U ook nog van ’n koningshuis wat nooit sal eindig nie wat U vir my sal gee! U praat asof ek iemand groots is, o Here God.
18 Wat kan ek nou vir U sê nadat U my, wat u dienaar is, so hoog vereer het? U ken my baie goed.
19 Here, omdat U my liefhet en omdat U dit so wil hê, het U al hierdie groot dinge gedoen en dit bekendgemaak.
20 “O Here, daar is niemand soos U nie. Alles wat ons gehoor het, bevestig dit: daar is geen God behalwe U nie!
21 Watter ander volk op aarde is soos u volk, Israel? Waar het ’n god al ooit soveel vir ’n volk gedoen deur hulle uit slawerny te bevry en hulle sy eiendom te maak? U het groot en skrikwekkende dinge vir ons gedoen en so deur die hele wêreld bekend geword. U het hulle uit Egipte laat trek en ander volke voor hulle uit verdryf.
22 U het Israel gekies om vir altyd u volk te wees en U, o Here, het hulle God geword.