5 Die Arameërs van Damaskus het vir Hadad-Eser kom help, maar Dawid het 22 000 van hulle doodgemaak.
6 Hy het toe beheerpunte in Damaskus, die Aramese hoofstad, opgerig. Daarna was die Arameërs Dawid se onderdane. Hulle moes belasting aan hom betaal. Só het die Here Dawid laat wen waar hy ook al oorlog gemaak het.
7 Dawid het die goue skilde wat Hadad-Eser se wagte gedra het, afgevat en Jerusalem toe gebring.
8 In die stede Tibgat en Kun, wat aan Hadad-Eser behoort het, het Dawid ’n groot hoeveelheid brons vir hom gevat. Later het Salomo dit laat smelt om die reusebronsbak wat bekend was as die “see”, asook die pilare buite die tempel en die bronsgereedskap wat in die tempel gebruik is, te laat maak.
9 Toe koning Toï van Hamat hoor dat Dawid vir Hadad-Eser verslaan het,
10 het hy sy seun Joram gestuur om Dawid geluk te wens met sy oorwinning. Hadad-Eser was in daardie stadium ook in ’n oorlog teen Toï gewikkel. Toï het ook geskenke van goud, silwer en brons vir Dawid gestuur.
11 Koning Dawid het hierdie geskenke ook vir die Here gegee. Hy het dit ook met al die silwer en goud gedoen wat hy van ander volke afgeneem het, soos die Edomiete, die Moabiete, die Ammoniete, die Filistyne en die Amalekiete.