10 “Gaan sê vir Dawid: ‘Die Here sê: Kies een van die volgende drie moontlikhede as ’n straf oor jou sonde en Ek sal dit laat gebeur.’”
11 Gad is toe na Dawid toe en het vir hom gesê:
12 “Die Here sê u moet kies tussen: drie jaar hongersnood, drie maande van vernietiging deur u vyande of drie dae van ernstige siekte, terwyl die engel van die Here vernietiging oor die hele land van Israel bring.“Wat kies u, sodat ek dit vir die Here kan gaan sê?”
13 Dawid het geantwoord: “Dit is ’n ontsettend moeilike keuse. Laat die Here my liewers self straf, want sy genade is baie groot. Moet tog net nie dat mense my in die hande kry nie!”
14 Die Here het toe ’n siekte-epidemie in Israel laat uitbreek wat die lewe van 70 000 mense geëis het.
15 Daarna het God ’n engel gestuur om Jerusalem ook te vernietig. Toe Hy die verwoesting sien, was die Here jammer daaroor en Hy het vir die engel gesê: “Hou op! Dit is nou genoeg.”Die engel het toe by die dorsvloer van Ornan, ’n Jebusiet, gestaan.
16 Dawid het opgekyk en die engel tussen die aarde en hemel gesien met ’n ontblote swaard wat hy oor Jerusalem uithou. Dawid en die leiers van die volk was baie hartseer en hulle wou dit vir die Here wys. Met rouklere aan het hulle met die gesig op die grond geval.