17 Dawid het toe vir God gesê: “Dit was ék wat beveel het dat die volk getel moes word. Dit was my fout en ek het die sonde gedoen. Wat het hierdie arme mense gedoen? Here my God, U kan my en my familie swaar straf, maar spaar tog u volk van die siekte-epidemie!”
18 Die engel van die Here het toe vir Gad beveel om vir Dawid te sê dat hy ’n altaar op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, moes gaan bou.
19 Dawid het dit dadelik gedoen.
20 Ornan en sy vier seuns was besig om koring te dors. Toe hy opkyk, het hy die engel gesien. Hy en sy seuns het dadelik gaan wegkruip.
21 Toe Ornan daarna vir Dawid na hom toe sien aankom, het hy voor Dawid neergebuig.
22 Dawid het toe vir Ornan gesê: “Verkoop asseblief die dorsvloer aan my teen sy volle prys. Ek wil ’n altaar hier bou sodat die siekte-epidemie kan ophou.”
23 Ornan wou egter niks van betaal weet nie. Hy het gesê: “Vat die grond vir u en doen wat nodig is. Ek gee dit vir u. Ek sal ook die osse gee as offerdiere en die dorsslee vir hout om vuur mee te maak en die koring as ’n voedseloffer. Dit is u s’n.”