23 Ornan wou egter niks van betaal weet nie. Hy het gesê: “Vat die grond vir u en doen wat nodig is. Ek gee dit vir u. Ek sal ook die osse gee as offerdiere en die dorsslee vir hout om vuur mee te maak en die koring as ’n voedseloffer. Dit is u s’n.”
24 Dawid het egter gesê: “Ek wil beslis vir alles betaal. Ek kan nie jou goed vir die Here offer en ’n brandoffer bring met iets wat my niks gekos het nie!”
25 Hy het die grond toe vir omtrent sewe kilogram goud van Ornan gekoop
26 en ’n altaar vir die Here op die dorsvloer gebou. Hy het brandoffers en vredesoffers vir die Here gebring. Toe Dawid tot die Here bid, het die Here met vuur uit die hemel geantwoord wat die offer op die altaar verbrand het.
27 Toe het die Here met die engel gepraat en hy het sy swaard gebêre.
28 Toe Dawid sien dat die Here sy gebede verhoor het, het hy offers op die dorsvloer gebring.
29 Op daardie stadium het die tabernakel van die Here, dit is die tent en die altaar wat Moses in die woestyn vir die Here gemaak het, nog op die hoogte by Gibeon gestaan.