25 want Dawid het gesê: “Die Here, die God van Israel, het vir sy volk rus gegee en Hy wil vir altyd in Jerusalem bly.
26 Nou hoef die Leviete nie meer die tent van die Here met al sy toebehore van plek tot plek te dra nie.”
27 Dit was Dawid se laaste instruksies dat al die Leviete van twintig jaar en ouer vir diens aangeteken moes word.
28 Hulle moes die nageslag van Aäron help met die werk in die huis van die Here. Hulle was verantwoordelik vir die voorportale, die kamers, die skoonmaak van al die gewyde dinge en vir die werksaamhede van die tempeldiens.
29 Hulle moes sorg vir die offerbrood, die meel vir die graanoffer, die ongesuurde brood, die bakplaat, die deegmengsel en vir elke inhouds- en lengtemaat.
30 Hulle moes ook elke oggend en aand reg staan om vir die Here dank en lof te bring
31 en moes help met die bring van al die offers vir die Here op die sabbat, nuwemaansfeeste en ander feestye. Die regte aantal Leviete moes altyd in die tempel werk, presies volgens die voorskrifte wat aan hulle gegee is.