2 Koning Dawid het hulle toegespreek: “My broers, my volk, luister na my! Ek wou baie graag ’n gebou opgerig het vir die verbondsark van die Here wat as ’n rusplek vir die voete kon dien vir ons God. Toe ek amper reg was om te begin bou,
3 het God vir my gesê: ‘Jy moenie ’n huis bou om my Naam te vereer nie, want jy is ’n soldaat wat baie mense doodgemaak het.’
4 Maar tog het die Here, die God van Israel, my uit my hele familie gekies om vir altyd Israel se koning te wees. Hy het die stam van Juda gekies om te regeer en uit die families van Juda het Hy my pa se familie gekies. Tussen al my pa se seuns het Hy my gekies om oor die hele Israel te regeer.
5 Uit die baie seuns wat die Here my gegee het, het Hy my seun Salomo gekies om na my koning te word van sy volk Israel.
6 Hy het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo moet my tempel bou, want Ek het hom vir My as seun gekies en ek sal vir hom ’n pa wees.
7 Ek sal sy koningskap vir altyd laat duur as hy gehoorsaam bly aan my wette en voorskrifte, soos wat hy tans doen.’
8 “Daarom beveel ek julle nou hier waar die hele Israel, die Here se gemeente, teenwoordig is en waar die Here self ons getuie is: maak seker dat julle al die wette van die Here julle God uitvoer, sodat julle hierdie goeie land kan behou en dit as ’n ewige erfenis vir julle kinders kan nalaat.