1 “Sê nou twee mans vat mekaar hof toe oor iets waaroor hulle nie saamstem nie. Die landdros bepaal wie reg is. Hy sê hierdie man wat reg gedoen het, is onskuldig en daardie man wat verkeerd gedoen het, is skuldig.
2 Dalk bepaal hy dat die ander man wat skuldig is, as straf met ’n sambok geslaan moet word. Wanneer hy geslaan word, moet die landdros by wees. Die man moet voor die landdros op die grond gaan lê. Dan moet hulle hom slaan. Die landdros moet tel dat hy slegs die aantal houe kry wat die hof hom opgelê het.
3 Onder geen omstandighede mag jy iemand meer as 40 houe met ’n sambok laat slaan nie. As jy iemand meer as 40 houe slaan, verneder jy hom voor ander mense. Dis nie ’n goeie ding nie.
4 “Wanneer jy ’n os gebruik om jou graan uit te trap, mag jy nie sy bek toebind sodat hy nie van die graan kan vreet nie.
5 “Twee broers bly dalk saam. Een van hulle gaan dood sonder dat sy vrou vir hom ’n seun gegee het. Sy vrou mag dan nie met iemand trou wat nie familie van haar oorlede man is nie. Nee, sy moet eerder met haar oorlede man se broer trou. Haar nuwe man moet dan ’n seun by haar hê wat na haar oorlede man vernoem kan word.