2 Hulle is toe na Bet-El toe. Daar het hulle tot in die aand in die teenwoordigheid van die Here gesit. Hulle het lank daar gesit en bitterlik gehuil en gesê:
3 “Here, God van Israel, waarom het dit in Israel gebeur? Een van die stamme van Israel is op die punt om te verdwyn!”
4 Vroeg die volgende oggend het die volk ’n altaar gebou waarop hulle brandoffers en vredesoffers geoffer het.
5 Toe vra hulle: “Was daar een van die stamme wat nie teenwoordig was toe ons by Mispa in die teenwoordigheid van die Here vergadering gehou het nie?” Hulle het vooraf ’n belofte afgelê dat enigeen wat geweier het om te kom, doodgemaak moes word.
6 Die Israeliete was baie jammer vir Benjamin. “Vandag het Israel een van sy stamme verloor,” het hulle gesê.
7 “Wat kan ons doen om vroue in die hande te kry vir die mans uit die stam van Benjamin wat oorgebly het? Ons het mos gesweer dat ons nie ons dogters met hulle sal laat trou nie.”
8 In antwoord op hulle vraag of daar iemand was wat nie na die vergadering in Mispa toe gekom het nie, het dit geblyk dat niemand uit Jabes in Gilead daar was nie.