12 Baie van hulle het vertrou, asook baie van die Griekse manne en van die belangrike Griekse vroue!
13 Toe die Jode van Thessalonike gehoor het dat die boodskap van God ook in Beroia deur Sha’ul verkondig is, het hulle gekom en nie opgehou om die mense daar op te sweep en te verontrus nie.
14 Die broers het toe dadelik vir Sha’ul weggestuur om in die rigting van die see te gaan, maar Sila en Timotheos het daar gebly.
15 Hulle wat saam met Sha’ul gegaan het, het saam met hom tot by Athenai gegaan en nadat hulle ’n brief van hom ontvang het aan Sila en Timotheos om so gou as moontlik na hom toe te kom, het hulle vertrek.
16 Terwyl Sha’ul in Athenai vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die hele stad vol afgode was.
17 Hy het elke dag in die bymekaarkomplek met die Jode en met die godsdienstige mense gepraat en op die mark met dié wat hom ontmoet.
18 Sommige van die volgelinge van Epikourios en die Stoikos filosowe, het met hom gedebatteer. Sommige het gesê: “Wat probeer hierdie storiemaker tog sê?” Ander weer: “Dit lyk of hy ’n verkondiger is van vreemde gode” omdat hy aan hulle die goeie boodskap van Yeshua en Sy opstanding verkondig het.