1 Nadat die oproer verby was, het Sha’ul die studentevolgelinge na hom toe laat kom, hulle vertroos, gesoen en na Makedonia vertrek.
2 Nadat hy deur daardie streke gegaan en hy hulle met baie boodskappe bemoedig het, het hy in Griekeland gekom,
3 waar hy drie maande gebly het. Toe die Jode teen hom saamgesweer het terwyl hy juis na Sirië wou afvaar, het hy besluit om deur Makedonia terug te gaan.
4 Tot in Asië het Sopatros van Beroia, hulle van Thessalonike, Aristargos en Sekundos, Timotheos en Gaios van Derbe, saam met hom gegaan, maar Tugikos en Trofimos, vanuit Asië,
5 het vooruitgegaan en in Troas op ons gewag.
6 Ná die ‘Dae van die Ongesuurde Brode’ het ons van Filippi af geseil en in vyf dae by hulle in Troas gekom, waar ons sewe dae lank gebly het.
7 Op die eerste dag van die week, toe ons vergader het om die brood van Yeshua se herdenking te breek, het Sha’ul met hulle gepraat en omdat hy die volgende dag sou vertrek, het hy sy boodskap verleng tot middernag toe.
8 Daar was baie lampe wat gebrand het in die boonste vertrek waar ons bymekaargekom het
9 en ’n jongman met die naam van Eutugos het in die venster gesit en luister en is oorval met ’n diep slaap toe Sha’ul nog lank gepraat het en in sy slaap het hy vanaf die derde verdieping geval en is dood opgetel.
10 Toe gaan Sha’ul ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê: “Moenie verontrus wees nie, want sy gees is in hom.”
11 Hy het toe boontoe gegaan, brood gebreek en geëet en nadat hy nog ’n geruime tyd gepraat het; tot dagbreek toe; het hy vertrek.
12 Hulle het die seun lewend huis toe geneem en hulle saam met hom verheug,
13 maar ons het vooruit op die skip gegaan en afgevaar na Assos, waar ons van plan was om Sha’ul aan boord te neem, want so het hy dit beplan omdat hy self te voet wou gaan.
14 Toe hy ons dan in Assos ontmoet, het ons hom aan boord geneem en by Mitulene gekom.
15 Die volgende dag het ons van daar af weggevaar en teenoor Gios gekom en die dag daarna na Samos oorgevaar en in Trogullion oorgebly en die dag daarop by Miletos gekom,
16 want Sha’ul het besluit om by Efesos verby te vaar sodat hy nie in Asië tyd sou spandeer nie, want hy het gou gemaak om, as dit vir hom moontlik was, die ‘Fees van Weke’ (Shavu’ot) in Yerushalayim te vier.
17 Hy het van Miletos af na Efesos gestuur en die oudstes van die gemeente laat roep.
18 Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Julle weet self hoe ek, van die eerste dag dat ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle was
19 as slaaf vir God, met alle nederigheid, baie trane en toetse wat oor my gekom het deur die samewerings van die Jode.
20 Ek het niks, wat goed vir julle gees is, nagelaat om aan julle te verkondig en julle te leer in die openbaar en in julle huise, nie,
21 terwyl ek teenoor die Jode, sowel as die Arameërs, getuig het om terug te draai huis toe: wat in die Teenwoordigheid van God is en na vertroue: wat in ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een is.
22 Nou gaan ek gebind deur die Gees na Yerushalayim en wat my daar sal oorkom, weet ek nie,
23 behalwe dat die Gees van Afsondering in elke stad getuig en sê dat kettings en vervolging vir my voorberei word.
24 Ek beskou nie my lewe vir myself as iets nie sodat ek my wedloop en die dienswerk wat ek van ons Meester Yeshua ontvang het, om te getuig van die goeie boodskap van die onverdiende guns van God, kan voltooi.
25 Nou weet ek dat niemand van julle onder wie ek rondgegaan en die Koninkryk verkondig het, my gesig weer sal sien nie;Yeg 3:18,19; Yeg 33:6,7
26 daarom getuig ek teenoor julle vandag dat ek skoon is van elkeen van julle se bloed,
27 want ek het nie nagelaat om aan julle die hele wil van God te wys nie.
28 Gee dan aandag aan julleself en aan die hele kudde waaroor die Gees van Afsondering julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy met Sy bloed gekoop het.
29 Ek weet dat ná my vertrek, kragtige wolwe onder julle sal inkom wat geen omgee vir die kudde het nie.
30 Uit julleself sal daar manne opstaan wat verdraaide dinge praat om die studentevolgelinge weg te trek agter hulle aan;
31 daarom moet julle waaksaam wees en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om een en almal met trane te waarsku nie.
32 Nou, broers, dra ek julle op aan God en aan die boodskap van Sy onverdiende guns, wat in staat is om julle op te bou en julle ’n erfdeel te gee saam met al die afgesonderdes.
33 Silwer, goud of klere het ek nie begeer nie,
34 maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in my en die wat by my was, se behoeftes.
35 Ek het julle in alles gewys dat ons, deur so te werk, die swakkes moet help en die boodskap van ons Meester Yeshua moet onthou, dat Hy gesê het: ‘Sy seën is vir hom wat gee, meer as vir hom wat ontvang’.”
36 Nadat hy dit gesê het, het hy gekniel en saam met almal wat by hom was, gebid.
37 Almal het baie gehuil en Sha’ul om die nek geval en hom gesoen,
38 al te meer bedroef oor die boodskap wat hy gebring het dat hulle sy gesig nie weer sou sien nie en hulle het hom tot by die skip begelei.