Handelinge 28 PWL

1 Eers agterna het ons geleer dat die eiland Melite genoem word.

2 Die ongekultiveerde mense wat daar gewoon het, het ons buitengewone goedheid en liefde bewys, want hulle het ’n groot vuur aangesteek weens die koue en die reën en ons almal daarby verwelkom.

3 Sha’ul het ’n bondel droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit en ’n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt.

4 Toe die inboorlinge die gevaarlike dier aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man is beslis ’n moordenaar, wat die regverdige oordeel nie laat lewe nie, al is hy uit die see gered.”

5 Sha’ul het die adder in die vuur afgeskud en geen kwade gevolge gehad nie.

6 Hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik dood neerval, maar nadat hulle lank gewag het en gesien het dat niks kwaads met hom gebeur nie, het hulle van gedagte verander en gesê dat hy ’n god is.

7 Die hoof van die eiland, wie se naam Poblios was, het in die omgewing van daardie plek ’n stuk grond gehad en hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik gehuisves.

8 Poblios se vader het siek gelê aan koors en disenterie en Sha’ul het ingegaan na hom toe en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak.

9 Hierna het ook die ander op die eiland wat siektes gehad het, na hom toe gekom en is gesond gemaak.

10 Hulle het ons ook baie hoog geag en toe ons sou wegvaar, ons, van dit wat ons nodig het, voorsien.

11 Ná drie maande het ons weggevaar in ’n skip van Alexandria met die skeepsmerk “Tweeling,” wat op die eiland oorwinter het

12 en ons het by die stad Surakousai geland en drie dae lank daar gebly.

13 Daarvandaan het ons rondgeseil en by die stad Region aangekom, ’n dag later het die suidewind opgekom en op die tweede het ons Potioloi bereik, ’n stad van Italië,

14 waar ons broers gevind het wat ons gevra het om sewe dae by hulle te bly en toe het ons na Rome gegaan.

15 Die broers wat van ons koms gehoor het, het ons tegemoet gekom by die Appiosmark en die Drie Herberge en toe Sha’ul hulle sien, het hy God geloof en is bemoedig.

16 Ons het Rome binnegegaan en die kaptein oor honderd het Sha’ul toegelaat om op sy eie te bly, met ’n soldaat wat hom moes oppas.

17 Ná drie dae het Sha’ul die leiers van die Jode saamgeroep en, nadat hulle bymekaargekom het, vir hulle gesê: “Broers, alhoewel ek niks gedoen het teen ons mense of die tradisies van ons vaders nie, is ek in Yerushalayim as gevangene oorgegee in die hande van die Romeine.

18 Hulle het my ondersoek en wou my loslaat omdat daar by my geen oortreding was wat die dood verdien nie,

19 maar toe die Jode dit teenstaan, was ek verplig om na die keiser te appelleer, nie asof ek iets het om my mense van te beskuldig nie.

20 Om hierdie rede dan het ek gevra om u te sien en met u te praat, want dit is oor die versekerde verwagting van Yisra’el dat ek met hierdie ketting geboei is.”

21 Hulle het vir hom gesê: “Ons het geen briewe oor u van Y’hudah ontvang nie, ook het geen van die broers hier aangekom en iets kwaads oor u berig nie,

22 maar ons begeer om van u te hoor, wat u opinie is aangaande hierdie lering, want dit is aan ons bekend dat niemand dit aanvaar nie.”

23 Hulle het vir hom ’n dag bepaal en baie het na die plek toe gekom waar hy bly. Van dagbreek tot die aand toe het hy die dinge vir hulle verduidelik en in diepte getuienis gegee aangaande die Koninkryk van God en vanuit die wet van Moshe en die profete, het hy hulle probeer oortuig aangaande Yeshua.

24 Sommige was oortuig van wat gesê is, maar ander was nie oortuig nie.

25 Hulle was onder mekaar verdeeld en het uitmekaargegaan nadat Sha’ul vir hulle gesê het: “Tereg het die Gees van Afsondering deur Yesha’yahu, die profeet, teen julle vaders gepraat

26 toe hy gesê het: ‘Gaan na hierdie volk en sê: ‘Julle sal aanhou hoor, maar nooit verstaan nie en julle sal aanhou kyk en nooit sien nie,’Yes 6:9-10

27 want die verstand, wil en emosie van hierdie mense het hard geword en hulle ore het hulle afgestomp en hulle oë het hulle toegemaak sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die verstand, wil en emosie verstaan en wegdraai van die sonde na My toe en Ek hulle vergewe nie.’

28 Laat dit dan verseker aan julle bekend wees dat die verlossing van God aan die ander nasies gestuur is en hulle luister daarna.”

29 Toe hy dit gesê het, het die Jode weggegaan en baie het onder mekaar debatteer.

30 Sha’ul het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom toe gekom het,

31 terwyl hy die Koninkryk van God verkondig en openlik lering gegee het aangaande ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een, sonder verhindering.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28