7 en Yasoon het hulle ontvang en hulle oortree almal die bepalings van die keiser en sê dat daar ’n ander Koning is, naamlik Yeshua.”
8 Die goewerneur en al die mense was verontrus toe hulle dit gehoor het
9 en hulle het borg van Yasoon en die ander ontvang en hulle losgelaat.
10 Die broers het dadelik, toe dit nag word, vir beide Sha’ul en Sila na Beroia weggestuur en toe hulle daar kom, het hulle in die bymekaarkomplek van die Jode ingegaan.
11 Hierdie Jode was meer edel as dié in Thessalonike; hulle het elke dag die boodskap met gretigheid ontvang terwyl hulle uit die Skrifte onderskei het om te sien of hierdie dinge so was.
12 Baie van hulle het vertrou, asook baie van die Griekse manne en van die belangrike Griekse vroue!
13 Toe die Jode van Thessalonike gehoor het dat die boodskap van God ook in Beroia deur Sha’ul verkondig is, het hulle gekom en nie opgehou om die mense daar op te sweep en te verontrus nie.