4 Die wat langs hom staan, sê: “Beskuldig jy die priester van God?”Eks 22:28
5 Sha’ul sê: “Ek het nie geweet, broers, dat hy priester is nie, want daar staan geskrywe: ‘Van ’n heerser van jou mense mag jy nie kwaad praat nie’.”
6 Toe Sha’ul besef dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: “Broers, ek is ’n Fariseër, die seun van ’n Fariseër en oor die versekerde verwagting van die opstanding van die wat dood is, word ek geoordeel.”
7 Toe hy dit sê, het daar ’n stryery ontstaan tussen die Fariseërs en die Sadduseërs en die mense het verdeeld geraak,
8 want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie en ook geen engel of gees nie, maar die Fariseërs bely dit alles.
9 Daar was ’n groot geraas en die leraars van die wet, van die party van die Fariseërs, het opgestaan en met hulle geargumenteer en gesê: “Ons vind geen boosheid in hierdie man nie en as ’n gees of ’n engel met hom gepraat het, wat daarvan?”
10 Toe daar ’n groot stryery ontstaan het en die bevelvoerder oor ’n duisend bang was dat Sha’ul deur hulle verskeur sou word, het hy die Romeinse soldate beveel om te gaan en hom met geweld weg te neem onder hulle uit en in die kamp in te bring.