17 Ná drie dae het Sha’ul die leiers van die Jode saamgeroep en, nadat hulle bymekaargekom het, vir hulle gesê: “Broers, alhoewel ek niks gedoen het teen ons mense of die tradisies van ons vaders nie, is ek in Yerushalayim as gevangene oorgegee in die hande van die Romeine.
18 Hulle het my ondersoek en wou my loslaat omdat daar by my geen oortreding was wat die dood verdien nie,
19 maar toe die Jode dit teenstaan, was ek verplig om na die keiser te appelleer, nie asof ek iets het om my mense van te beskuldig nie.
20 Om hierdie rede dan het ek gevra om u te sien en met u te praat, want dit is oor die versekerde verwagting van Yisra’el dat ek met hierdie ketting geboei is.”
21 Hulle het vir hom gesê: “Ons het geen briewe oor u van Y’hudah ontvang nie, ook het geen van die broers hier aangekom en iets kwaads oor u berig nie,
22 maar ons begeer om van u te hoor, wat u opinie is aangaande hierdie lering, want dit is aan ons bekend dat niemand dit aanvaar nie.”
23 Hulle het vir hom ’n dag bepaal en baie het na die plek toe gekom waar hy bly. Van dagbreek tot die aand toe het hy die dinge vir hulle verduidelik en in diepte getuienis gegee aangaande die Koninkryk van God en vanuit die wet van Moshe en die profete, het hy hulle probeer oortuig aangaande Yeshua.