Numeri 22 PWL

1 Die seuns van Yisra’el het weggetrek en kamp opgeslaan in die vlaktes van Mo’av, oorkant die Yarden, regoor Yerigo.

2 Nou Balak, die seun van Tzippor, het alles gesien wat Yisra’el aan die Emoriete gedoen het.

3 Mo’av was uitermate bang vir die volk, want hulle was baie en Mo’av was in angs vanweë die teenwoordigheid van die seuns van Yisra’el.

4 Mo’av sê vir die oudstes van Midyan: “Nou sal hierdie menigte alles oplek rondom ons, soos ’n bees die gras van die veld oplek.” Balak, die seun van Tzippor, was dié tyd koning van Mo’av.

5 Hy het boodskappers gestuur na Bil’am, die seun van B’or, in P’tor wat naby die Rivier (Eufraat) is, in die land van die seuns van sy volk, om hom te roep en te sê: “Let op, daar het ’n volk uit Mitzrayim gekom. Let op, hulle het die oppervlakte van die land toegedek en leef oorkant my.

6 Asseblief, kom daarom, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is te magtig vir my. Miskien sal ek oorwin en ’n slag slaan en hulle uit die land verdryf, want ek het opgelet dat die een wat jy seën, geseënd is en die een wat jy vervloek, vervloek is.”

7 Die oudstes van Mo’av en die oudstes van Midyan het vertrek met die waarsêersloon in hulle hand en by Bil’am gekom en vir hom die woorde van Balak gesê.

8 Hy antwoord hulle: “Bly vannag hier oor, dan sal ek vir julle woord bring soos יהוה met my mag praat.” Die heersers van Mo’av het by Bil’am gebly.

9 God het by Bil’am gekom en gesê: “Wie is hierdie manne by jou?”

10 Bil’am het God geantwoord: “Balak, die seun van Tzippor, die koning van Mo’av, het na my gestuur en gesê:

11 ‘Let op, daar het ’n volk uit Mitzrayim gekom en hulle het die oppervlak van die land toegedek. Kom nou, vervloek hulle vir my, miskien sal ek hulle kan oorwin in oorlog en hulle uitdryf.’ “

12 God sê vir Bil’am: “Jy mag nie saam met hulle gaan nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd.”

13 Bil’am staan die oggend op en sê vir die heersers van Balak: “Gaan terug na julle land, want יהוה het geweier om my saam met julle te laat gaan.”

14 Die vorste van Mo’av het opgestaan, by Balak gekom en gesê: “Bil’am het geweier om saam met ons te kom.”

15 Balak stuur weer leiers; meer in getal en meer eerbaar as die ander

16 en hulle het by Bil’am gekom en vir hom gesê: “So sê Balak, die seun van Tzippor: ‘Ek smeek jou, laat niks jou verhinder om na my toe te kom nie,

17 want ek sal jou met groot eer vereer en wat jy vir my sê, sal ek doen; daarom kom asseblief en vervloek hierdie volk vir my.’ “

18 Bil’am antwoord en sê vir die diensknegte van Balak: “Al gee Balak vir my sy huis vol silwer en goud, ek kan niks doen, groot of klein, in teenstelling met die opdrag van יהוה, my God, nie.

19 Nou daarom, bly julle asseblief ook vannag hier sodat ek mag weet wat יהוה verder vir my sal sê.”

20 God het in die nag na Bil’am gekom en gesê: “As die mans dan gekom het om jou te roep, staan dan op, gaan saam met hulle, maar net die woord wat Ek vir jou sê, dit moet jy doen.”

21 Bil’am het die oggend opgestaan, sy donkie opgesaal en saam met die leiers van Mo’av gegaan.

22 God se woede het gebrand omdat hy gegaan het en die Engel van יהוה het Homself as Teëstander in die pad geplaas. Hy het op sy donkie gery en sy twee diensknegte was saam met hom

23 en die donkie het die Engel van יהוה in die pad sien staan, met Sy swaard getrek in Sy hand en die donkie het uit die pad uitgedraai, die veld in. Bil’am het die donkie geslaan om haar na die pad toe terug te draai.

24 Die Engel van יהוה het in ’n smal pad van die wingerde gaan staan, met ’n muur aan dié kant en ’n muur aan die ander kant.

25 Toe die donkie die Engel van יהוה sien, druk sy haarself teen die muur en druk Bil’am se voet teen die muur sodat hy haar weer geslaan het.

26 Die Engel van יהוה het verder gegaan en gaan staan op ’n nou plek waar daar geen pad was om of regs of links uit te draai nie.

27 Toe die donkie die Engel van יהוה sien, gaan sy onder Bil’am lê en Bil’am se woede het gebrand en hy het die donkie met sy staf geslaan.

28 יהוה het die bek van die donkie oopgemaak en sy sê vir Bil’am: “Wat het ek aan jou gedoen dat jy my nou al drie maal geslaan het?”

29 Bil’am antwoord die donkie: “Omdat jy met my gekskeer. Ek wens daar was ’n swaard in my hand, dan het ek jou teen die tyd doodgemaak.”

30 Die donkie sê vir Bil’am: “Is ek nie jou donkie waarop jy gery het vandat ek joune geword het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te maak?” Hy antwoord: “Nee.”

31 Toe maak יהוה Bil’am se oë oop en hy sien die Engel van יהוה in die pad staan met Sy uitgetrekte swaard in Sy hand en hy het neergebuig en op sy gesig op die grond geval.

32 Die Engel van יהוה vra vir hom: “Hoekom het jy jou donkie hierdie drie keer geslaan? Let op, Ek het as ’n Teëstander teen jou uitgekom, want jou pad loop onaanvaarbaar voor My uit!

33 Die donkie het My gesien en hierdie drie keer voor My uitgedraai. As sy nie voor My uitgedraai het nie, sou Ek jou nou doodgemaak en haar laat lewe het.”

34 Bil’am sê vir die Engel van יהוה: “Ek het gesondig, want ek het nie geweet dat U teenoor my in die pad gestaan het nie; daarom nou, as dit onaanvaarbaar in U oë is, sal ek teruggaan.”

35 Die Engel van יהוה sê vir Bil’am: “Gaan saam met die manne, maar net die woord wat Ek vir jou sê, dit moet jy praat.” Bil’am het saam met die leiers van Balak gegaan.

36 Toe Balak hoor dat Bil’am kom, het hy uitgegaan om hom te ontmoet by die stad van Mo’av, wat in die streek van die Arnon lê, by die grens van die streek.

37 Balak sê vir Bil’am: “Het ek nie dringend na jou gestuur om jou te laat roep nie? Waarom het jy nie na my toe gekom nie? Is ek werklik nie in staat om jou te vereer nie?”

38 Bil’am het Balak geantwoord: “Let op, ek het na jou toe gekom. Is ek in staat om iets te sê? Die woord wat God in my mond sit, dit sal ek sê.”

39 Bil’am het toe saam met Balak gegaan en hulle het by Kiryat-Hutzot gekom.

40 Balak het beeste en kleinvee geoffer en daarvan aan Bil’am en aan die leiers wat by hom was, gestuur.

41 Dit was die volgende oggend dat Balak vir Bil’am gevat het en hom opgevat het na die hoë plekke van Ba’al en hy het van daar af ’n gedeelte van die volk gesien.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36