23 Petrus het die mans ingenooi en hulle vir die nag slaapplek gegee.Die volgende dag het Petrus saam met die mans vertrek. ’n Paar gelowiges uit Joppe het ook saamgegaan.
24 ’n Dag later het hulle in Sesarea aangekom. Intussen het Kornelius opgewonde op hulle koms gewag. Hy het selfs sy familie en vriende laat kom om saam met hom te luister na wat Petrus te sê het.
25 Toe Petrus by Kornelius se huis opdaag, het hy nader gestap om hom te verwelkom. Hy het op sy knieë voor Petrus neergeval om hom te aanbid.
26 “Nee, wag, hou op! Ek is ’n doodgewone mens,” het Petrus gesê.
27 Hulle twee is die huis in. Daar het ’n groot groep mense op hulle gewag.
28 Petrus sê toe vir hulle: “Dit wat ek nou doen, mag ons Jode eintlik nie doen nie. Soos julle weet, durf ons nie in mense uit ander volke se huise ingaan of met hulle meng nie. Maar gelukkig het God my oë oopgemaak. Hy het vir my gewys dat ek glad nie op mense uit ander volke mag neersien nie.
29 Dis hoekom ek nie ’n oomblik gehuiwer het om hierheen te kom toe Hy my beveel het om dit te doen nie. Maar sê my, hoekom het julle my nou eintlik laat haal?”