1 In daardie tyd het koning Herodes begin om die gelowiges in Jerusalem wreed te vervolg.
2 Hy het selfs vir Jakobus, die broer van Johannes, laat doodmaak. Die godsdienstige leiers van die Jode was baie bly daaroor.
3 Dit het Herodes aangespoor om ook vir Petrus te laat vang en in die tronk te gooi. Dit was gedurende die paastyd.
4 Herodes wou doodseker maak dat Petrus nie uit die tronk ontsnap nie. Daarom het hy vier groepe van vier soldate elk aangestel om hom dag en nag op te pas. Sodra die paasfees verby was, wou Herodes vir Petrus in die openbaar verhoor.
5 Terwyl Petrus in die tronk was, het die gemeente baie ernstig tot God gebid dat Hy hom moes help.
6 Die nag voordat Petrus voor Herodes sou verskyn, het hy tussen twee wagte aan die slaap geraak. Hy was vasgemaak met twee swaar kettings. Voor die tronk se deur was daar ook ’n paar wagte wat diens gedoen het.
7 Skielik het ’n engel van die Here in die tronk verskyn. Hy het alles rondom hom helder verlig. Petrus het so vas geslaap dat hy dit nie eens agtergekom het nie. Die engel moes hom toe wakker skud.
8 “Staan dadelik op!” het die engel gesê. Die kettings om Petrus se hande het vanself losgegaan. “Sit jou belt aan,” het die engel hom beveel. “En kry ook ’n paar skoene aan jou voete.” Toe Petrus dit alles gedoen het, het die engel vir hom gesê om sy bokleed aan te trek en agter hom aan te kom.
9 Petrus het agter die engel begin aanstap. Hy het gedink dat hy weer besig was om ’n visioen te sien. Intussen het hulle by al die wagte verbygestap tot reg voor die groot ysterhek wat na die stad toe lei. Die hek het vanself oopgegaan.
10 Die engel en Petrus het saam buitetoe gestap. ’n Straatblok van die tronk af het die engel skielik verdwyn. Petrus het toe eers besef dat hy nie besig was om te droom nie. Opgewonde het hy vir homself gesê:
11 “Die Here het regtig ’n engel gestuur om my uit Herodes se hande te kom red. Hy het gesorg dat ek nie voor die Jode verhoor hoef te word nie.”
12 Petrus het vinnig na die huis van Maria, die ma van Johannes Markus, gestap. ’n Groot groep gelowiges het daar saamgebid.
13 Toe hy aan die voordeur klop, het ’n bediende met die naam Rodé kom kyk wie dit was. Sy was bly toe sy hoor dat dit Petrus is.
14 Sy het na binne gehardloop en opgewonde vir almal gesê: “Petrus staan by die deur!”
15 Maar die gelowiges het haar nie geglo nie. “Jy is van jou kop af!” het hulle gesê. “Nee, dit is so. Dis regtig so,” het sy aanhou sê. “Dalk is dit sy beskermengel,” het hulle gesê.
16 Terwyl almal stry oor wie by die voordeur kon wees, het Petrus aangehou klop. Uiteindelik het hulle die deur kom oopmaak. Hulle kon hulle oë nie glo nie.
17 Onder al die opgewondenheid deur het Petrus hulle stilgemaak en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk bevry het. “Gaan sê asseblief vir Jakobus en die ander gelowiges wat gebeur het,” het hy bygevoeg. Daarna het hy na ’n ander plek vertrek.
18 Die volgende dag was daar chaos onder die soldate wat Petrus opgepas het. Hulle kon nie verklaar hoe hy so spoorloos kon verdwyn nie.
19 Herodes het dadelik ’n groot soektog na Petrus op tou gesit. Hulle kon hom nêrens opspoor nie. Herodes was so kwaad daaroor dat hy die wagte wat Petrus moes oppas, laat teregstel het. Daarna het hy besluit om ’n ruk lank in sy paleis in Sesarea te gaan bly.
20 Herodes het intussen heelwat probleme met die mense van Tirus en Sidon gehad. Afgevaardigdes uit hierdie gebiede het toe bevriend geraak met die hoof van Herodes se huishouding. Sy naam was Blastus. Deur sy toedoen het hulle ’n geleentheid gekry om met Herodes te kom praat en die vrede te probeer herstel. Hulle voortbestaan het van hierdie ontmoeting afgehang.
21 Op die dag waarop hulle afgespreek het, het Herodes sy opwagting gemaak. Met al sy blink klere aan het hy op sy troon gaan sit en almal toegespreek.
22 Hy was skaars klaar of die mense het begin uitroep: “Dis ’n god wat nou met ons praat. Hy is nie ’n gewone mens nie.”
23 Op daardie einste oomblik stuur die Here een van sy engele wat Herodes net daar voor almal inmekaar laat sak het. Dit het gebeur omdat hy God nie geëer het nie. Daarna het hy baie ernstig siek geword en gesterf.
24 Intussen het die gelowiges aangehou om God se woord uit te dra. Die kerk het van krag tot krag gegaan en aanhou groei.
25 Barnabas en Saulus het ook teruggekeer Antiogië toe. Hulle het vir Johannes Markus saam met hulle teruggevat.