1 Toe pinksterdag aanbreek, was al die gelowiges in die kamer waar hulle gewoonlik bymekaargekom het. Skielik het hulle
2 ’n geweldige dreuning bokant hulle in die lug gehoor. Dit het soos ’n reusestormwind geklink. Dit het die hele gebou waarin hulle was, gevul.
3 Toe sien hulle iets wat soos vuurvlamme lyk oor elkeen van hulle kom.
4 Almal is toe met die Heilige Gees volgemaak. Hulle het dadelik in ander tale begin praat. Die Gees het hulle in staat gestel om dit te doen.
5 Gedurende die feestyd was daar baie Joodse pelgrims van oor die hele wêreld in Jerusalem.
6 Hulle het ook die geweldige geluid gehoor en dadelik na die gebou toe gehardloop waar die gelowiges bymekaar was.
7 Hulle was stomgeslaan toe hulle daar aankom en hoor hoe die gelowiges in verskillende tale praat. “Hoe kan dit wees?” het hulle vir mekaar gevra. “Hierdie mense kom dan daar van Galilea af.
8 Hoe kry hulle dit reg om nou in ons eie taal met ons te praat? Hier tussen ons is mense van oral in die wêreld.
9 Kyk net, hier is Perse, Mediërs, Elamiete en ook mense wat in Mesopotamië bly.
10 Ons merk ook mense op uit Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en uit dele van Libië. Ja, daar staan selfs ’n klompie uit Rome.
11 Behalwe al die Jode van oor die hele wêreld staan hier ook mense uit ander volke wat later die Joodse geloof aangeneem het. Daar is inwoners van die eiland Kreta en ook ’n groep Arabiere. En tog hoor ons almal nou in ons eie taal hoe dié mense met ons praat oor al die groot dinge wat God doen.”
12 Die skare kon nie mooi uitmaak wat aan die gebeur was nie. Hulle het verbaas vir mekaar gevra: “Wat gaan aan?”
13 ’n Paar spotters het gesê: “Hierdie spul mense is dronk. Hulle het heeltemal te veel wyn gedrink.”
14 Saam met die elf ander apostels het Petrus vir die skare beduie om stil te bly. Toe sê hy vir hulle: “Vriende, mede-Jode en inwoners van Jerusalem, luister nou mooi na my.
15 Hierdie mense is nie dronk soos party van julle dink nie. Dis dan nou eers nege-uur in die oggend.
16 Kom ek vertel julle wat hier aan die gebeur is. Die woorde van Joël het pas waar geword. Julle onthou hoe hy geskryf het:
17 ‘Aan die einde van die tyd,’ sê God, ‘sal Ek my Gees gee aan almal wat in My glo. Dan sal Ek my wil aan julle seuns en julle dogters bekendmaak. Hulle sal profete wees wat my wil bekendmaak.
18 ‘Met julle jongmense sal Ek in visioene praat. En met die ouer mense onder julle sal Ek in drome praat. Op almal wat My dien, mans en vroue, sal Ek aan die einde van die tyd my Gees uitstort.
19 ‘Hulle sal my wil aan ander mense bekendmaak. Ek sal ook groot tekens in die lug en op die aarde laat gebeur.
20 Bloed en vuur en donker rook sal hemel en aarde vul. Ek sal die son pikswart maak, en die maan so rooi soos bloed.‘Al hierdie dinge sal gebeur kort voordat die groot dag van die Here aanbreek; daardie dag waarop Hy na die wêreld toe terugkom.
21 Almal wat die Here se Naam aanroep en Hom smeek om hulle sondes weg te vat, sal gered word.’”
22 “Vriende, julle moet mooi luister na wat ek nou vir julle wil sê. Jesus van Nasaret is die Man wat deur God aangestel is om groot wonderwerke en tekens onder julle te doen.
23 Hy is ’n rukkie gelede hier in Jerusalem deur ’n spul goddelose mense gevang, presies net soos God dit beplan het. Daarna het julle almal Hom laat doodmaak.
24 Maar God het Hom weer lewendig gemaak. Hy het al die bande van die dood van Jesus afgegooi en Hom lewendig daar laat uitstap.
25 Hoor wat Dawid oor Jesus geskryf het:
26 ‘Die Here is elke tree van die pad by my. Daarom kan ek niks oorkom nie. My lewe loop oor van vreugde. Ek vertel vir almal hoe goed die Here is.
27 Nie eens die dood kan my meer bangmaak nie, want U sal nooit toelaat dat die kloue van die dood my vir altyd vashou nie. U sal nooit u eie kind, u oogappel, daar in die doderyk laat vergaan nie.
28 U stap heeltyd saam met my op die pad wat na die lewe toe lei. Ek jubel daaroor.’
29 “Vriende, julle weet net so goed soos ek dat Dawid lankal dood en begrawe is. Sy graf is hier by ons in Jerusalem. Dawid was egter ’n boodskapper van God.
30 Daarom het hy geweet dat God ’n belofte aan hom gemaak het dat iemand uit sy nageslag altyd oor sy koninkryk sou heers.
31 Hy het geweet dat die Messias uit die dood sou opstaan. Dawid het gesien dat die doderyk met al sy gevare God se Gestuurde nooit gevange sou hou nie.
32 “Jesus het hierdie woorde van Dawid waar laat word. Dit het gebeur toe God Hom lewendig gemaak het. Ons weet dit, want ons het Jesus met ons eie oë gesien nadat Hy weer lewendig geword het.
33 Daarna het God die heel belangrikste plek in die hemel aan Hom gegee. Toe Jesus daar aankom, het Hy die Heilige Gees by sy Vader ontvang soos God aan Hom beloof het. Daarna het Jesus die Heilige Gees na ons toe gestuur. Dit kan julle nou met julle eie oë sien en met julle eie ore hoor.
34 “Maar nog iets oor Dawid. Ons weet hy het nie self lewendig hemel toe gegaan nie. Dawid vertel egter in een van sy psalms hoe God met die Messias praat. God het vir Hom gesê: ‘Sit hier langs My. Dit is die heel belangrikste plek in die hemel.
35 Sit hier totdat Ek al jou vyande onder jou voete vertrap het.’
36 “Almal in Israel moet vandag een ding besef: hierdie Jesus wat julle aan die kruis vasgespyker het, is nou deur God as die Here en die Messias aangestel. Hy heers nou oor almal in die hemel en op die aarde. Net Hy kan ons red.”
37 Die skare wat na Petrus gestaan en luister het, is diep deur sy woorde geraak. “Sê asseblief vir ons wat ons nou moet doen. Hoe kan ons die saak tussen ons en God regmaak?” het hulle vir die apostels gevra.
38 “Laat staan dadelik julle sondes. Kom terug na God toe,” het Petrus geantwoord. “Laat julle ook doop in die Naam van Jesus Christus. God sal julle sondes dan vergewe. Julle sal ook die Heilige Gees ontvang.
39 Hierdie groot hemelse Geskenk is bedoel vir elkeen van julle. En ook vir julle kinders. Ja, selfs vir al die ander mense wat op die oomblik nog ver van God af lewe. Binnekort sal hulle ook van Hom hoor en deur God nader geroep word.”
40 Petrus het toe nog ’n hele ruk met die skare gepraat. “Gee pad uit hierdie sondige wêreld uit,” het hy vir hulle gesê. “Dit gaan julle lewe totaal verwoes. Kom na God toe. Laat Hy julle uit die kloue van die sonde verlos. Net Hy kan dit doen.”
41 Na Petrus se woorde het ’n groot aantal mense, omtrent 3 000, tot bekering gekom. Daarna is hulle gedoop.
42 Van toe af het hierdie nuwe gelowiges gereeld bymekaargekom om te hoor wat die apostels leer. Hulle het nou in ’n splinternuwe verhouding met God en met mekaar gestaan.Hulle het ook gereeld saamgeëet en saamgebid.
43 Die apostels het groot wonderwerke onder hulle gedoen.Al die gelowiges het groot eerbied vir God gehad.
44 Hulle liefde vir Hom en vir mekaar het hulle in ’n hegte eenheid saamgesnoer.
45 Daarom was hulle bereid om selfs hulle besittings met mekaar te deel. Hulle het alles verkoop wat hulle besit het en die geld vir die armes gegee.
46 Dag na dag het hulle ook na die tempel toe gegaan om God daar te aanbid. Hulle het ook by verskillende huise saamgeëet. Hierdie maaltye was glad nie uitspattig nie. Al die gelowiges was vol vreugde.
47 Hulle het God heeltyd geprys omdat Hy so groot en goed is. Die gelowiges se lewenstyl het die ander mense in Jerusalem aangegryp. Almal het daaroor gepraat. Daarom het daar elke dag baie mense tot geloof in Christus gekom.