1 Apollos het ook in Korinte vir die mense van Jesus vertel. Terwyl hy daarmee besig was, het Paulus intussen deur ’n aantal ander gebiede gereis. Toe Paulus in Efese aankom, het hy sowat twaalf volgelinge van Jesus daar raakgeloop. Hy vra toe vir hulle:
2 “Het julle ook die Gees se krag in julle lewens ontvang toe julle tot bekering gekom het?”
3 “Wie is dit? Ons het nog nooit eens van Hom gehoor nie,” vra hulle verbaas.“Hoe is julle dan gedoop? In wie se naam het dit gebeur?” vra Paulus verbaas.“Met die doop van Johannes die Doper,” antwoord hulle.
4 “Johannes het mense gedoop wat bereid was om op te hou met hulle sonde,” sê Paulus toe. “Johannes het ook vir elkeen wat hy gedoop het, gesê dat hulle moes glo in die Een wat na hom op die toneel sou verskyn. Daardie Een is Jesus. Daarom geld Johannes se doop nou nie meer nie.”
5 Toe die gelowiges hoor wat Paulus sê, was hulle vuur en vlam om in die Naam van die Here Jesus gedoop te word. Paulus het dit toe ook gedoen. Nadat hy hulle gedoop het, het hy sy hande op hulle gesit terwyl hy vir hulle bid.
6-7 Dadelik het die groot krag van die Heilige Gees in hulle begin werk. Hulle het ook in ander tale gepraat. Boonop het hulle nou ook oor die vermoë beskik om te profeteer en God se wil bekend te maak. Hulle was omtrent twaalf persone.
8 Paulus het daarna by die sinagoge in Efese gaan besoek aflê. Hy het die volgende drie maande gereeld soontoe gegaan. Keer op keer het hy met die mense gaan redeneer. Hy het hard probeer om hulle te oortuig dat hulle slegs in God se nuwe wêreld kon kom as hulle in Jesus glo. Maar baie van hulle het volstrek geweier om in Jesus te glo. Later het hulle met Paulus begin spot en lelike dinge oor Jesus daar voor almal kwytgeraak. Paulus was baie ontevrede.
9 Paulus het hulle verlaat en ’n skoolgebou by ’n man met die naam Tirannus bekom. Daar het hy elke dag saam met die gelowiges bymekaargekom en vir hulle van Jesus vertel.
10 Die volgende twee jaar het Paulus die skool gebruik om die mense te leer waaroor die evangelie presies gaan. Later het omtrent almal in Asië, Jode en Grieke inkluis, geweet wie die Here Jesus is.
11 God het Paulus ook in staat gestel om groot wonderwerke te doen. Paulus het oor soveel krag beskik dat siekes slegs van sy klere op hulle kon neersit, dan het hulle op die plek gesond geword.
12 Selfs bose magte het padgegee uit die lewens van mense wat in aanraking met Paulus se klere was.
13 In daardie tyd was daar baie Jode wat van plek tot plek rondgetrek en duiwels uit mense gedryf het.
14 Die sewe seuns van Skeva, ’n belangrike Joodse priester, was so ’n groep. Hulle het allerhande dinge gedoen om mense van duiwels te probeer bevry. Op ’n dag toe hulle in Efese was, het hulle vir ’n bose gees gesê wat in iemand was: “Ons dryf jou uit in die Naam van daardie Jesus van wie Paulus praat.”
15 Die bose gees het geantwoord: “Kyk, ek weet baie goed wie Jesus is. En ek ken ook vir Paulus. Maar julle spul ken ek van geen kant af nie!”
16 Dadelik het die man in wie die bose mag was, hulle wreedaardig aangeval. Hy was so sterk dat hulle niks teen hom kon doen nie. Hulle klere is van hulle afgeskeur. Op die ou end het hulle daarin geslaag om weg te kom, kaal en bebloed.
17 Gou-gou het almal in Efese gehoor wat met die seuns van Skeva gebeur het. Die inwoners het baie bang geword. Almal het met groot eerbied oor die Here Jesus gepraat. Baie nuwe bekeerlinge het in die openbaar vertel hoe hulle vroeër in sonde geleef en hoe Jesus hulle lewens verander het.
18 ’n Klompie hekse en towenaars het ook tot bekering gekom. Daar voor almal het hulle hulle boeke verbrand waarin al hulle towerformules opgeskryf was. Hierdie boeke was peperduur.
19 Dit was sowat 50 000 silwermuntstukke werd. (Dit was sowat 137 jaar se salaris vir ’n gewone werker!)
20 Die Woord van die Here het in Efese van krag tot krag gegaan. Al hoe meer mense het geglo.
21 Paulus het toe besluit om weg te gaan uit Efese. Hy was van plan om deur Masedonië en Agaje na Jerusalem te reis. “Daarna wil ek baie graag Rome toe gaan,” het Paulus vir die gelowiges gesê. “Ek móét die stad eenvoudig sien!” Paulus het solank twee van sy helpers,
22 Timoteus en Erastus, vooruit na Masedonië gestuur. Hy self het eers nog ’n rukkie in Asië agtergebly.
23 Op ’n dag het daar toe in die stad ’n betoging oor Paulus se preke uitgebreek. Dit is veroorsaak deur ’n man met die naam Demetrius.
24 Hy was ’n silwersmid wat silwerbeeldjies van die godin Artemis gemaak het. Hy was ook ’n baie suksesvolle sakeman wat aan ’n hele aantal vakmanne werk verskaf het. Demetrius het gesorg dat hulle almal goeie winste maak uit die vervaardiging van hierdie beelde.
25 Op ’n dag het hy hulle bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Vriende, ons maak regtig ’n goeie bestaan uit ons beeldjies. Dit sal egter nie meer lank so aanhou as ons nie iets drasties doen nie.
26 Daardie Paulus, van wie julle ook al gehoor het, is besig om die hele wêreld deurmekaar te maak met sy vreemde leringe. Omtrent elkeen in ons stad, ja, byna die hele Asië, begin nou al glo dat ons handgemaakte gode nie regtig lewe nie.
27 “As dit so aanhou, gaan niemand meer ons beelde koop nie. Die mense is besig om al hulle respek vir ons handewerk te verloor. Ons groot godin Artemis se naam word deur die modder gesleep. Binnekort sal niemand meer haar tempel wil besoek nie. Sy word immers deur ons hele provinsie en oor die hele wêreld heen as ’n magtige godin vereer.”
28 Toe die mense hoor wat Demetrius sê, was hulle baie kwaad. Hulle het begin skree: “Artemis is die groot godin van die Efesiërs!” Hulle geskree het die hele stad gou in oproer gehad. Baie mense het by die stad se amfiteater begin saamdrom.
29 Party van hulle het twee van Paulus se helpers, Gaius en Aristargos, gegryp en soontoe gesleep. Hulle twee was uit Noord-Griekeland afkomstig.
30 Toe Paulus daarvan hoor, wou hy dadelik met die skare gaan praat, maar die ander Christene het hom gekeer.
31 ’n Paar leiersfigure in die provinsie wat op daardie tydstip in Efese was en wat goeie vriende van Paulus was, het hom ook laat weet om onder geen omstandighede na die amfiteater toe te gaan nie.
32 Intussen het die skare in die amfiteater aangehou om slagspreuke te skree. Dit was later ’n hele deurmekaarspul. Almal het geskree net wat hulle wou. Niemand het ’n idee gehad waaroor dit eintlik gaan nie. Onder al die geraas deur het die Jode een van hulle leiers, ’n man met die naam
33 Aleksander, aangesê om die skare toe te spreek. Hy het probeer om hulle stil te maak en aan hulle te verduidelik dat die Jode nie die oorsaak van die oproer was nie. Maar toe die skare agterkom dat hy ’n Jood is, het hulle hom doodgeskree.
34 Met nuwe geesdrif het hulle weer begin skree: “Artemis is die groot godin van die Efesiërs!” Twee ure lank het dit so aangehou.
35 Uiteindelik het die stadsklerk daar opgedaag en die skare tot bedaring gebring. Hy het vir hulle gesê: “Inwoners van Efese, almal weet tog hoe belangrik ons stad is. Ons is immers die beskermers van Artemis se groot tempel en van haar standbeeld wat lank terug uit die hemel geval het.
36 Niemand kan tog daarteen stry nie. Word asseblief nou kalm. Moenie iets onverantwoordeliks aanvang nie.
37 Laat die twee mans los wat julle hierheen gesleep het. Hulle het niks uit Artemis se tempel gesteel nie. Hulle het ook geen lelike woord oor haar gesê nie.
38 Demetrius en sy klompie vakmanne moet maar ’n klag by die hof gaan lê as hulle voel dat iemand hulle te na gekom het. Ons het ’n goeie regstelsel met regters en howe.
39 As julle meer as dit wil hê, moet ons ’n vergadering van al die inwoners van die stad belê waar ons hierdie saak verder kan uitpraat. So nie, moet ons uitmekaargaan. Want netnou kla die Romeinse owerhede ons aan dat ons vandag ’n oproer begin het.
40 Ons het nie eintlik ’n goeie rede waarom ons nou so skree en raas nie.” Met hierdie woorde het die stadsklerk die skare uitmekaar laat gaan.