Handelinge 28 DB

’n Slang kry Paulus nie onder nie

1 Toe ons almal die veiligheid van die strand bereik het, het ons agtergekom dat ons op die eiland Malta was.

2 Die mense wat daar gebly het, het ons met oop arms ontvang. Hulle het dadelik ’n groot vuur aangesteek omdat hulle gesien het dat ons baie koud kry. Boonop was ons almal papnat omdat dit intussen ook begin reën het.

3 Almal het hout vir die groot vuur bymekaargemaak. Paulus het ook hand bygesit. Toe hy ’n bondel hout op die vuur kom neersit, het ’n giftige slang skielik tussen die hout uitgekom en hom aan sy hand gepik.

4 Die inwoners van die eiland het die slang aan Paulus se hand sien hang en vir mekaar gesê: “Hierdie man is sekerlik ’n moordenaar. Hy was net gelukkig om lewendig uit die storm op die see te kom. Maar nou het die gode hom uiteindelik ingehaal. Nou betaal hulle hom terug vir sy misdaad.”

5 Paulus het die gedierte afgeskud en dit in die vuur laat val. Hy het niks oorgekom nie. Almal het verwag dat hy enige oomblik sou begin opswel van die slangbyt en doodgaan.

6 Maar hy was springlewendig. Na ’n ruk het die mense van mening verander en vir mekaar gesê dat hy die een of ander god moet wees.

Paulus se gebed bring genesing

7 Die hoofman van die eiland het ’n stuk grond daar naby besit. Sy naam was Publius. Hy het ons na sy huis genooi. Daar het ons die volgende drie dae as sy gaste deurgebring. Publius se pa was baie siek. Hy het ’n hoë koors gehad en ’n maagkwaal. Paulus het na sy kamer toe gegaan.

8 Daar het hy sy hande op hom geplaas en vir hom gebid. Die man het dadelik gesond geword. Die nuus van die genesing het soos ’n veldbrand oor die eiland versprei.

9 Kort voor lank het almal hulle siekes na Paulus toe gebring. Hy het hulle almal gesond gemaak.

10 Aan die einde van ons verblyf op Malta het die mense ons ’n koninklike afskeid gegee. Hulle het ons oorlaai met geskenke en met al die nodige voorrade vir ons reis.

Weer op pad Rome toe

11 Na drie maande op Malta het ons Italië toe vertrek aan boord van ’n skip uit Aleksandrië, wat daar oorwinter het. Die skip se naam was die Dioskuri.

12 Ons het tot in Sirakuse gevaar en drie dae daar oorgebly.

13 Van daar af het ons tot in Regium gevaar. Twee dae later het ons met behulp van ’n sterk suidewind in die hawe van Puteoli aangekom.

14 Daar het ons ’n groep Christene raakgeloop wat ons genooi het om by hulle oor te bly. Nadat ons sewe dae by hulle deurgebring het, is ons Rome toe.

15 Die gelowiges in Rome het gehoor dat ons op pad was. Sommige van hulle het ons langs die pad kom ontmoet. Een groep het ons reeds by die Appiusmark ingewag, en ’n ander groep by die Drie Herberge. Paulus was so bly dat hy daar voor almal vir God dankie gesê het. Nou het hy moed gehad vir dit wat voorlê.

Paulus in Rome

16 In Rome is Paulus toegelaat om op sy eie in ’n huis te bly. ’n Romeinse soldaat het hom daar opgepas.

17 Drie dae na sy aankoms het Paulus al die Joodse leiers van die stad na sy huis genooi. Toe hulle almal in die huis bymekaar was, het hy vir hulle gesê: “Vriende, ek het niks verkeerds gedoen teen ons volk of teen ons godsdienstige tradisies nie. Tog is ek in Jerusalem gevang en aan die Romeine uitgelewer. Die Romeinse owerhede het die aanklagte teen my behoorlik ondersoek.

18 Hulle het toe vasgestel dat ek niks gedoen het wat die doodstraf verdien nie.

19 Hulle wou my toe loslaat. Party Jode het egter so sterk daarteen beswaar gemaak dat ek verplig was om my op die keiser te beroep. Maar moenie bekommerd wees nie.

20 Ek is nie van plan om my volk by die keiser in die moeilikheid te bring nie. Daarom het ek julle vandag hierheen laat kom. Ek wil hê julle moet weet dat ek steeds ’n lojale lid van my volk is. Ek is egter ’n gevangene omdat ek glo in Hom op wie se koms ons voorouers al die jare gewag het.”

21 Die Jode het daarop vir Paulus gesê: “Niemand uit Judea het ons laat weet dat jy Rome toe kom nie. Hier het ook niemand opgedaag wat iets slegs oor jou vertel het nie.

22 Ons sou egter graag wou hoor wat jy te sê het oor daardie nuwe sekte wat in Jesus glo. Die mense hier sê allerhande lelike dinge oor hulle.”

’n Gesprek met die Joodse leiers

23 Hulle het besluit om ’n paar dae later weer bymekaar te kom. Op dié dag het ’n groot groep Jode in die gastekamer in Paulus se huis bymekaargekom. Daar het Paulus van vroegoggend tot laataand met hulle oor God se koninkryk gepraat. Hy het hulle probeer oorreed om in Jesus te glo. Hy het ook vir hulle gewys dat Moses en die profete reeds oor Jesus Christus geskryf het.

24 Party van die Jode is deur Paulus se woorde oortuig, maar ander het geweier om te glo wat hy sê.

25 Hierdie besoekers het onder mekaar aan die stry geraak. Toe hulle begin huis toe gaan, het Paulus die laaste woord gehad: “Die Heilige Gees was heeltemal reg toe Hy deur die profeet Jesaja vir ons voorouers gesê het:

26 ‘Gaan na my volk toe en sê vir hulle: Al hoor julle met julle ore, verstaan julle net mooi niks nie. Al kyk julle met julle oë, is julle eintlik blind.

27 Hierdie mense se harte is kliphard. Hulle ore is doof. Hulle oë is heeltemal toe. Daarom kan hulle niks sien of hoor nie. Hulle verstaan nie wat Ek besig is om te doen nie; daarom kom hulle nie terug na My toe sodat Ek hulle gesond kan maak nie.’

28 “Julle het julle kans verspeel,” het Paulus bygevoeg. “Ek sê vir julle dat God se reddingsboodskap van nou af aan mense verkondig gaan word wat nie aan die Joodse volk behoort nie. Hulle sal wel na God luister!”

Vrye teuels vir die goeie nuus

30 Daarna het Paulus twee jaar lank in sy gehuurde huis in Rome gebly. Hy het almal wat hom kom besoek het met oop arms ontvang. Paulus het met al sy gaste oor God se nuwe wêreld gepraat.

31 Hy het gesê dat Jesus die Messias, die Gestuurde van God is. Hy regeer nou as Here oor alles en almal. Niemand het Paulus verbied om oor Jesus te praat nie.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28