16 “Hierdie gebeurtenis in Kornelius se huis het my laat dink aan die woorde van ons Here Jesus. Onthou julle hoe Hy vroeër vir ons gesê het: ‘Johannes doop julle wel met water, maar julle sal een van die dae met die Heilige Gees gedoop word’?
17 “Nou vra ek julle: Wie is ek dan om in God se pad te staan? Hy het dieselfde hemelse Geskenk aan mense gegee wat nie Jode is nie as aan ons Jode wat in Jesus Christus glo. Hy is nou die Here oor ons almal se lewe.”
18 Toe die gemeentelede dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God se Naam geprys en gesê: “’n Wonderwerk het gebeur! God se goedheid het nou ook by mense buite ons eie volksgrense uitgekom. Hy gee nou ook nuwe lewe aan hulle wanneer hulle tot bekering kom.”
19 As gevolg van die vervolging van die kerk in Jerusalem net na Stefanus se dood het party gelowiges na plekke soos Fenisië, Siprus en Antiogië gevlug. Hulle het die Woord van die Here daar met ander Jode gaan deel.
20 Sekere gelowiges wat uit Siprus en Sirene gekom het, het egter daar in die stad Antiogië begin om met mense wat nie Jode was nie oor die Here Jesus te praat.
21 Die Here se groot krag het deur hierdie gelowiges gewerk sodat ’n groot groep mense in ’n kort tydjie tot bekering gekom het. Hulle het hulle sondes laat staan en volgelinge van Jesus geword.
22 Toe hierdie nuus die Jerusalemgemeente bereik, het hulle vir Barnabas na Antiogië toe gestuur om te kyk of die nuwe gelowiges darem doen wat God vra.