18 Toe die gemeentelede dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God se Naam geprys en gesê: “’n Wonderwerk het gebeur! God se goedheid het nou ook by mense buite ons eie volksgrense uitgekom. Hy gee nou ook nuwe lewe aan hulle wanneer hulle tot bekering kom.”
19 As gevolg van die vervolging van die kerk in Jerusalem net na Stefanus se dood het party gelowiges na plekke soos Fenisië, Siprus en Antiogië gevlug. Hulle het die Woord van die Here daar met ander Jode gaan deel.
20 Sekere gelowiges wat uit Siprus en Sirene gekom het, het egter daar in die stad Antiogië begin om met mense wat nie Jode was nie oor die Here Jesus te praat.
21 Die Here se groot krag het deur hierdie gelowiges gewerk sodat ’n groot groep mense in ’n kort tydjie tot bekering gekom het. Hulle het hulle sondes laat staan en volgelinge van Jesus geword.
22 Toe hierdie nuus die Jerusalemgemeente bereik, het hulle vir Barnabas na Antiogië toe gestuur om te kyk of die nuwe gelowiges darem doen wat God vra.
23 Hy was aangenaam verras toe hy daar aankom en sien wat God besig was om in hulle lewe te doen. Barnabas het hulle opgewonde aangespoor om die Here met alles in hulle te dien en aan Hom getrou te bly.
24 Barnabas was ’n goeie man met ’n sterk geloof in God. Almal kon sien dat die Heilige Gees se groot krag deur hom gewerk het. Hy het besluit om in Antiogië te bly en die gelowiges te help om die goeie nuus daar uit te dra. Baie mense het as gevolg van sy werk begin glo.