14 Sy het na binne gehardloop en opgewonde vir almal gesê: “Petrus staan by die deur!”
15 Maar die gelowiges het haar nie geglo nie. “Jy is van jou kop af!” het hulle gesê. “Nee, dit is so. Dis regtig so,” het sy aanhou sê. “Dalk is dit sy beskermengel,” het hulle gesê.
16 Terwyl almal stry oor wie by die voordeur kon wees, het Petrus aangehou klop. Uiteindelik het hulle die deur kom oopmaak. Hulle kon hulle oë nie glo nie.
17 Onder al die opgewondenheid deur het Petrus hulle stilgemaak en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk bevry het. “Gaan sê asseblief vir Jakobus en die ander gelowiges wat gebeur het,” het hy bygevoeg. Daarna het hy na ’n ander plek vertrek.
18 Die volgende dag was daar chaos onder die soldate wat Petrus opgepas het. Hulle kon nie verklaar hoe hy so spoorloos kon verdwyn nie.
19 Herodes het dadelik ’n groot soektog na Petrus op tou gesit. Hulle kon hom nêrens opspoor nie. Herodes was so kwaad daaroor dat hy die wagte wat Petrus moes oppas, laat teregstel het. Daarna het hy besluit om ’n ruk lank in sy paleis in Sesarea te gaan bly.
20 Herodes het intussen heelwat probleme met die mense van Tirus en Sidon gehad. Afgevaardigdes uit hierdie gebiede het toe bevriend geraak met die hoof van Herodes se huishouding. Sy naam was Blastus. Deur sy toedoen het hulle ’n geleentheid gekry om met Herodes te kom praat en die vrede te probeer herstel. Hulle voortbestaan het van hierdie ontmoeting afgehang.