Handelinge 15:4-10 DB

4 Met hulle aankoms in Jerusalem is Paulus-hulle vriendelik deur die gemeentelede ontvang. Die apostels en die ouderlinge was ook daar om hulle te verwelkom. Hulle het toe aan die kerk in Jerusalem verslag gedoen van al die groot dinge wat God deur hulle laat gebeur het.

5 ’n Klompie Fariseërs wat intussen ook tot bekering gekom het, was geskok toe hulle hoor hoe Paulus en Barnabas onder nie-Jode gewerk het. “Julle moet daardie mense dadelik laat besny. Julle moet ook sorg dat hulle die wet van Moses streng onderhou,” het hulle gesê.

6 Die apostels het saam met die ouderlinge ’n vergadering belê om dit behoorlik te bespreek.

7 By dié vergadering het die een persoon na die ander gesê hoe hy oor die besnydenis dink. Uiteindelik, na lang debatte, het Petrus opgestaan en gesê: “Broers, julle weet mos hoe God my ’n ruk gelede na mense toe gestuur het wat nie Jode is nie. Ek moes die goeie nuus oor Jesus aan hulle gaan vertel sodat hulle ook tot bekering kon kom.

8 God, wat tot in ons binneste kan kyk, het gesien dat hulle regtig tot geloof gekom het. Daarom het Hy die Heilige Gees na hulle toe gestuur, net soos Hy vroeër met ons gedoen het.

9 “God maak nie onderskeid tussen mense van verskillende volke nie. Hy trek niemand voor nie. Daarom het Hy ook daardie mense wat nie Jode is nie, nuut gemaak omdat hulle in Jesus glo.

10 “Vir wat wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur ’n swaar gewig op gelowiges se nekke te plaas wat ons en ons voorouers nie eens kon optel nie? Hoekom verwag julle van mense wat nie Jode is nie om al ons Joodse gebruike na te kom?