18 Dit het ’n paar dae so aangehou, totdat Paulus hom vererg het. Op ’n dag het hy omgedraai en die gees wat in haar was kwaai aangespreek: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit hierdie meisie uit!” In ’n oogwink het dit gebeur.
19 Toe die eienaars van die slavin agterkom dat sy nie meer in staat was om ander se fortuin te vertel nie en dat al hulle wins daarmee heen was, was hulle woedend. Hulle het op Paulus en Silas afgestorm, hulle gegryp en hulle na die markplein gesleep tot voor die hoofamptenare van die stad.
20 Dié het Paulus en Silas gearresteer en na die hooflanddroste toe gebring. Die klag teen hulle was kort en kragtig: “Hierdie Jode versteur die rus in ons stad.
21 Hulle leringe is in stryd met ons Romeinse wet en tradisie.”
22 Die skare was teen daardie tyd ook al baie omgekrap oor dit wat Paulus en Silas verkondig het. Die hooflanddroste
23 sê toe vir die polisiemanne dat Paulus en Silas se klere daar op die plek van hulle afgeskeur moes word en dat hulle elkeen ’n behoorlike drag slae moes kry. Nadat Paulus en Silas pimpel en pers geslaan is, is hulle in die tronk gegooi.
24 Die tronkbewaarder het opdrag gekry om hulle behoorlik op te pas. Hy het hulle in die sel reg in die middel van die tronk opgesluit. Boonop het hy swaar boeie om hulle voete vasgemaak.