8 Toe het hulle deur Misië na Troas toe gereis.
9 In Troas het Paulus een nag ’n visioen gesien. Hy het gesien hoe ’n man uit Masedonië, daar in die noorde van Griekeland, voor hom kom staan en by hom pleit: “Kom dadelik na ons toe. Kom help ons!”
10 Na hierdie droom het Paulus presies geweet wat om te doen. Hy het vir ons almal wat saam met hom was, gesê om dadelik gereed te maak om Masedonië toe te gaan. Paulus was nou oortuig dat God ons almal geroep het om die goeie nuus vir daardie mense te gaan vertel.
11 Ons het die eerste skip geneem wat na Samotrake gevaar het. Van daar af het ons die volgende dag tot in Neapolis gereis. Toe ons daar aankom, het ons dadelik koers gekies die binneland in.
12 Ons bestemming was die stad Filippi, ’n belangrike Romeinse kolonie in Masedonië. Ons sou ’n paar dae daar oorbly.
13 Op die sabbatdag het ons na ’n rivier net buite die stad gestap. Ons het gehoor dat mense gewoonlik daar bymekaargekom het om te bid. Ons het daar gaan sit en begin gesels met ’n paar van die vroue wat daar was.
14 Een van die vroue, Lidia, wat uit die stad Tiatira afkomstig was en wat duur pers materiaal verkoop het, het vroeër al die Joodse geloof aangeneem. Sy het aandagtig gesit en luister na wat Paulus gesê het. Die Here het Lidia aangeraak sodat sy die goeie nuus oor Jesus gelowig aanvaar het.