16 Daarna het Gallio hulle almal uit sy ampswoning weggejaag.
17 Intussen het die mense vir Sostenes, een van die hoofde van die sinagoge, ook na Gallio toe gebring. Daar het hulle hom rondgestamp en allerhande beskuldigings teen hom gemaak. Gallio wou egter nie in hulle godsdienstige geskille inmeng nie.
18 Paulus het daarna nog ’n ruk lank met sy werk in Korinte voortgegaan. Op ’n dag het hy besluit om ’n paar ander gemeentes te gaan besoek. Hy het van die gelowiges in Korinte afskeid geneem en met ’n skip na Sirië vertrek. Priscilla en Akwila het saam met hom gegaan. Toe Paulus in Kenchreë aankom, het hy al die hare op sy kop afgeskeer. Dit was die bewys dat hy ’n belofte nagekom het wat hy vroeër aan die Here gemaak het.
19 Daarna is Paulus na Efese toe. Akwila en Priscilla het besluit om in Efese agter te bly. Met sy verblyf in die stad het Paulus ’n vinnige besoek by die plaaslike sinagoge afgelê. Daar het hy met die Jode oor Jesus gaan praat. Die mense was so aangegryp deur wat hy gesê het dat hulle wou hê hy moes nog ’n hele ruk by hulle bly. Paulus het egter nie daarvoor kans gesien nie.
20-21 “As God wil, kom ek binnekort weer na julle toe,” het hy vir hulle gesê. Hy het daarna met ’n skip uit Efese weggevaar en in Sesarea aangekom.
22 Daar het hy al die gemeentelede gaan groet en toe na Antiogië vertrek. Paulus het daar oorgebly.
23 Na ’n kort rustydjie het hy weer begin reis, dié keer deur die landstreke van Galasië en Frigië. Hy het by al die gelowiges wat daar gebly het ’n draai gaan maak en hulle moed ingepraat.