13 Intussen het die ander van ons per skip na Assus vertrek. Ons sou Paulus daar ontmoet, soos ons afgespreek het. Hy wou graag soontoe stap. Alles het volgens plan verloop.
14 Paulus het daar in Assus by ons aangesluit. Ons het verder met ’n skip na Mitilene gevaar.
15 Daarvandaan het ons die volgende dag tot regoor die eiland Chios gevaar. Nog ’n dag later was ons by Samos, en ’n dag later by Milete. Paulus het besluit om nie weer in Efese te stop nie.
16 Hy wou nie nog daar oorbly nie omdat hy graag op pinksterdag in Jerusalem wou wees.
17 Toe ons in Milete aankom, het Paulus iemand met ’n boodskap na die leiers van die gemeente in Efese gestuur en hulle gevra om hom te kom besoek. Toe hulle daar aankom, het hy vir hulle gesê:
18 “Vandat ek in Asië aangekom het, het ek daar by julle gebly. In nederigheid het ek alles gedoen wat die Here van my verwag het. Die Jode was baie kwaad oor alles wat ek vir die mense oor Jesus vertel het.
19 Hulle het die een plan na die ander uitgedink om van my ontslae te raak. Daaroor was ek baie hartseer. Al was my werk hoe swaar, het ek nogtans aangehou om die goeie nuus oor Jesus bekend te maak. Ek het nooit ’n enkele deeltjie van die evangelie uitgelaat nie.