1 Dit was bitter moeilik om van Efese se ouderlinge afskeid te neem. Nadat ons dit gedoen het, het ons tot by die eiland Kos gevaar. Daar het ons die aand oorgeslaap. Die volgende dag het ons tot in Rodos en van daar af na Patara gevaar.
2 Daar aangekom, het ons ’n boot gehaal wat ons tot in Fenisië geneem het.
3 Van daar af is ons na Siprus toe, waar ons oor Sirië tot in Tirus gevaar het. Die skip het daar anker gegooi. Terwyl ons gewag het dat die skip se vrag afgelaai word, het ons besluit om by die gelowiges in die stad te gaan oorbly.
4 Ons het toe sewe dae by hulle deurgebring. Terwyl ons daar in Tirus was, het die Heilige Gees ’n paar gelowiges gelei om vir Paulus te sê om nie Jerusalem toe te gaan nie.
5 Later, toe ons skip reg was om te vertrek, het die hele gemeente ons kom groet. Mans, vroue en kinders, almal was daar. Hulle het saam met ons tot by die hawe gestap. Dit was net buitekant die stad. Daar op die strand het ons almal eers neergekniel en saamgebid.