27 Toe die sewe dae amper verby was, het ’n groepie Jode uit Asië op ’n dag vir Paulus in die tempel raakgesien. Hulle was geskok en het dadelik begin skree:
28 “Help! Kom help ons om hierdie man te vang! Dit is hy wat oral sulke verskriklike dinge teen die wet en teen die tempel kwytraak. Hy het nie ’n goeie woord vir ons volk nie. Boonop het ’n klompie Grieke saam met hom hier in die binnehof van die tempel ingekom. Hy maak die tempel onrein.
29 Almal weet mos dat heidene nie hier mag inkom nie.” (Terloops, hierdie Jode het vroeër vir Trofimus, een van Paulus se metgeselle uit Efese, saam met hom sien rondstap. Hulle het gedink dat Paulus hom in die tempel ingevat het. Maar Paulus het nie so iets gedoen nie.)
30 Hierdie woorde het die skare in rep en roer gehad. Soos een man het hulle op Paulus afgestorm en hom gevang. Die nuus dat Paulus in die tempel gevang is, het soos ’n veldbrand deur die stad versprei. ’n Groot aantal mense het na die tempel toe gehardloop. Hulle het Paulus hardhandig tot buite die tempel gesleep. Die priesters het die deure van die tempel haastig agter die woedende skare toegesluit omdat hulle bang was vir ’n bakleiery op die tempelterrein.
31 Terwyl die mense Paulus aangerand en hom probeer doodmaak het, is ’n boodskap na die aanvoerder van die Romeinse garnisoen gestuur. Hy het gehoor wat buite die tempel aangaan.
32 Die bevelvoerder het toe dadelik sy offisiere en manskappe bymekaargemaak en na die tempel gehardloop om die skare onder beheer te kry.
33 Toe die skare die Romeinse soldate sien aankom, het hulle opgehou om Paulus te slaan en te skop. Die bevelvoerder het die soldate beveel om hom met twee kettings vas te maak. Toe het hy probeer vasstel wie Paulus is en wat hy verkeerd gedoen het.