30 Hierdie woorde het die skare in rep en roer gehad. Soos een man het hulle op Paulus afgestorm en hom gevang. Die nuus dat Paulus in die tempel gevang is, het soos ’n veldbrand deur die stad versprei. ’n Groot aantal mense het na die tempel toe gehardloop. Hulle het Paulus hardhandig tot buite die tempel gesleep. Die priesters het die deure van die tempel haastig agter die woedende skare toegesluit omdat hulle bang was vir ’n bakleiery op die tempelterrein.
31 Terwyl die mense Paulus aangerand en hom probeer doodmaak het, is ’n boodskap na die aanvoerder van die Romeinse garnisoen gestuur. Hy het gehoor wat buite die tempel aangaan.
32 Die bevelvoerder het toe dadelik sy offisiere en manskappe bymekaargemaak en na die tempel gehardloop om die skare onder beheer te kry.
33 Toe die skare die Romeinse soldate sien aankom, het hulle opgehou om Paulus te slaan en te skop. Die bevelvoerder het die soldate beveel om hom met twee kettings vas te maak. Toe het hy probeer vasstel wie Paulus is en wat hy verkeerd gedoen het.
34 Die skare het egter so geraas en deurmekaar gepraat dat die aanvoerder nie kon verstaan wat aan die gang was nie.
35 Hy het toe vir sy soldate gesê om Paulus na die Romeinse kaserne toe te bring. Die skare was egter so gewelddadig dat die soldate Paulus moes dra. Hulle het agter die soldate aangeloop en geskree:
36 “Weg met hom!”