16 Moenie langer tyd verspil nie. Staan gou op sodat jy gedoop kan word. Al jou sondes sal dan afgewas word omdat jy in die Here glo en sy Naam aanroep.’”
17 “Daarna het ek na Jerusalem teruggekeer. Terwyl ek daar in die tempel besig was om te bid het die Here skielik op ’n bonatuurlike manier aan my verskyn.
18 Ek het Hom met my eie twee oë gesien. Hy het vir my gesê: ‘Gee baie vinnig pad uit Jerusalem! In hierdie stad sal niemand luister na wat jy oor My sê nie.’
19 “Ek het die Here geantwoord: ‘Maar, Here, hierdie mense ken my. Hulle weet hoe ek vroeër almal wat in U glo in die tronk gegooi en in die sinagoges laat slaan het.
20 Ja, selfs toe Stefanus, u getuie, hier in Jerusalem vermoor is, het ek gestaan en toekyk. Ek was baie bly oor sy dood. Ek het dan selfs die klere opgepas van daardie spul wat hom onder die klippe gesteek het.’
21 “Terwyl ek nog besig was om vir die Here te vertel hoekom ek eintlik in Jerusalem moes aanbly, het Hy vir my gesê: ‘Genoeg! Gee nou dadelik pad! Ek stuur jou ver weg uit Jerusalem uit. Jy moet nou na mense toe gaan wat nie aan die Joodse volk behoort nie.’”
22 Tot hiertoe het die skare geduldig na Paulus geluister. Toe hulle egter hoor hoe hy sê dat die Here hom uit Jerusalem weggestuur het, het hulle hulle bloedig vererg. “Weg met hom. Hy verdien nie om te leef nie!” het hulle begin skree. Sommige van hulle het sommer hulle klere begin uittrek omdat hulle hom onder die klippe wou steek.