21 “Terwyl ek nog besig was om vir die Here te vertel hoekom ek eintlik in Jerusalem moes aanbly, het Hy vir my gesê: ‘Genoeg! Gee nou dadelik pad! Ek stuur jou ver weg uit Jerusalem uit. Jy moet nou na mense toe gaan wat nie aan die Joodse volk behoort nie.’”
22 Tot hiertoe het die skare geduldig na Paulus geluister. Toe hulle egter hoor hoe hy sê dat die Here hom uit Jerusalem weggestuur het, het hulle hulle bloedig vererg. “Weg met hom. Hy verdien nie om te leef nie!” het hulle begin skree. Sommige van hulle het sommer hulle klere begin uittrek omdat hulle hom onder die klippe wou steek.
23 Ander mense het uit verontwaardiging stof in die lug opgegooi, want hulle het gedink Paulus het lasterlike dinge teen God gesê.
24 Die bevelvoerder van die Romeinse garnisoen het gesien dat dinge handuit begin ruk. Daarom het hy sy soldate beveel om Paulus na die Romeinse kaserne toe terug te vat. Hy het ook vir hulle gesê om Paulus ’n ordentlike drag slae te gee. Die bevelvoerder wou hom op dié manier aan die praat kry sodat hy kon agterkom hoekom die skare hom uitgejou het.
25 Toe die soldate Paulus met toue begin vasmaak sodat hulle hom kon slaan, het hy vir ’n Romeinse kaptein wat daar gestaan het, gevra: “Is dit wat u nou doen wettig? Mag u ’n Romeinse burger lyfstraf gee sonder ’n verhoor?”
26 Die kaptein het dadelik na die bevelvoerder gegaan en vir hom gesê: “U moet mooi dink wat u met hierdie man doen. Weet u, hy is ’n Romeinse burger.”
27 Die bevelvoerder het na Paulus toe gestap en vir hom gevra: “Sê my, is jy regtig ’n Romeinse burger?”